Swak karakter skep werk

Argieffoto (Foto: Goumbik/Pixabay)

Ek is dankbaar vir elke inisiatief in die gemeenskap wat op ’n manier vir nog mense werk skep, maar ek wonder hoeveel van ons werksgeleenthede het eintlik met ʼn gebrek aan karakter te doen?

Ek skets gou ʼn scenario: ʼn Baas stel iemand aan om ʼn sekere werk te doen, maar van die begin af het hierdie nuwe werknemer ʼn bestuurder nodig wat sal kyk of hy doen wat hy veronderstel is om te doen. Die baas het dalk self iemand wat iewers oor sy skouer loer om te kyk hoe effektief hy die ander mense dophou…

Jy het sopas elke item by die kassier skandeer, betaal en in plastieksakkies gelaai, maar net om dubbel seker te maak jy vat nie dalk iets “op die huis” saam met jou huis toe nie, is daar by die uitgang van die winkel weer iemand op hulle pos wat kyk na die ekstra items wat soms so “onder deur die tafel” inglip wat die ekstra persoon in die kontrolekamer, wat die winkel se kameras moet dophou, dalk nie vinnig genoeg opgetel het nie. Vanaand wanneer die een kollega die geld moet tel en die ander een die dag se beeldmateriaal moet nagaan voor die onafhanklike diensverskaffer en die ten-duurste-sekuriteitsmaaskappy inkom om alles te evalueer en deur die nag vir jou op te pas, is dit dalk te laat om die skelm van vroeër die dag te vang en die polisie gaan sukkel om by jou klein diefstalsakie uit te kom met die veel groter moeilikheid as gevolg van die ander groter skurke.

Ek weet ek dik so bietjie aan om my punt te maak, maar ek voel op ʼn manier swak karakter is eintlik die slegste rede vir werkskepping en ek wonder waar ons sou uitkom as ons al die onnodige polisiemanne, base, bestuurders en “dophouers” moes tel wat aangestel word juis omdat ons mense in die eerste plek nie kan vertrou nie?

Gee ons in en speel saam vuil terwyl ek myself oortuig “ek is darem nie so sleg soos daai een wat dit of dat doen nie?”

Bill Hybels skryf in sy boek, Who you are when no one is looking: “Character is our world’s most pressing need. If all 5 billion of us had strong characters, there would be no wars, no hunger, no family breakups, no crime, no poverty. We will not live in such a perfect world until Christ returns and the earth is made new, but in the meantime, we should not despair. To the extent that our own characters grow stronger, the world will be a better place.”

God roep ons tot ʼn hoër standaard as die almal-doen-dit-maar-so gemiddelde-aanvaarde-standaard. Hy roep ons om met integriteit en karakter uit te staan, voor en agter mense, daar waar my kollegas en baas kan sien wat ek doen en ook waar niemand kan sien nie. Mag ons elkeen hierdie verantwoordelikheid aanvaar sodat ons eie karakter kan aanhou groei en sodat die plekke en posisies waarin ons dien en werk, meer en meer kan lyk na ʼn plek waar God regeer.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gys ·

Jy het vergeet om skoonmakers te noem.
Dit grief my grensloos dat mense nie in openbare plekke hul eie gemors kan saamvat nie.
Ek verwys spesifiek na vliegtuie, fliekteaters en sportstadions (ja, rugbystadions ook).
Kyk volgende keer hoe morsig lyk sulke plekke nadat ‘n spul ongemanierde en lui mense daar deur is.
Jip, ongemanierd en lui is hoe ek sulke mense beskryf.

In sommige gevalle is skoonmakers wel nodig, maar beslis nie in bogenoemde 3 gevalle nie.

Andreas ·

‘Swak karakter’, mooi diplomaties gestel. Ek weet van karakters wat nie ‘n hand kan lig om iets te doen nie. Aha, en dan is daar so ‘n paar in die politiek ook.

HPV ·

Sodra jy by die kassier reeds vir alles betaal het en hulle die betaling aanvaar het is jy die regmatige eienaar van die items, mag hulle sonder jou toestemming jou items weer soort van konfiskeer vir nagaan doeleindes? Mag jy weier?
Wat sê ons regsgeleerdes.

LR ·

Net so skep regstellede aksie en BEE ook werk. Mense word aangestel maar kan nie die werk doen nie, nog iemand moet aangestel word om die moroon se werk te doen.
Mense word ingetrek as BEE vennote, hulle grootste werk is om hulle geld te gaan haal die einde van die maand.

JMC ·

As jy iemand se ware karakter wil sien, gee hom ‘n posisie met outoriteit.

JAN ·

2000 jaar gelede het ń eensame jong man aan ń kruis gesterf na helse marteling. Die laaste persoon wat in hom geglo het was ń veroordeelde moordenaar .
Niemand anders nie.
Na 3 dae het hy uit die dood opgestaan.
Ek glo in die wederkoms van hierdie Jesus na gelowiges VOORDAT hulle sterf.

JAN ·

Naskrif.
Die antwoord oor ‘ karakter kwessie’ sal u by Luther en veral Calvyn vind. Die Institusies van Calvyn’ het die wêreld gered uut die donker eeue van die tirranie van IT teokrasie.
Kennis is mag .
Waaroor fake news alles gaan.
Suiwer satanisme.

OWO ·

Die scenario wat jy in die tweede paragraaf beskryf,word verseker nie in die regerings werkplek toegepas nie.Dt is juis die probleem hoekom die dienslewerings aspek vandag so tragies is.Die bestuurs en lynfunksies is jare gelede al afgeskaf en bestaan nie meer nie.Groot salarisse word verdien en meer mense word aangestel,ten koste van dienslewering.Ek dink die probleem het beslis te doen met ‘n kultuur,sosialistiese agtergrond wat nie maklik verander sal word nie.Die sogenaamde bestuurders en base weet in elkgeval nie meer wat die mense onder hulle doen nie,agv die afskaffing van die bestuurs en lynfunksies.Tot dit nie gaan hestel nie,sien ek moeilike tye wat op ons wag,mbt dienslewering aan die gemeenskappe.

Linda-Lea ·

Mens kan maar net wonder wie se swak karakters dit is wat hierdie werkskepping tot gevolg het. Ek het al self gestaan en toekyk waar die eienaar van ‘n besigheid ‘n arme pensioentrekker wat sy eggenote binne die besigheid gaan soek het, nadat hy vir die items in sy trollie betaal het, tot bewerasie en byna in trane in viktimiseer. By dieselfde besigheid is die vleis wat ons reeds gekoop en betaal het na die slaghuis teruggeneem om weer geweeg te word. Die items was deur die persoon wat dit verwerk het self in die trollie geplaas. Ons het net die vleis gekoop en nie eers daaraan geraak voordat ons dit by die toonbank uitgehaal en daarvoor betaal het nie, ons is direk nadat ons betaal het deur die traumatiese gebeure gedwing. Geen fout kon gevind word nie. Nodeloos om te sê daar was ook nie jammer gesê vir my/[die besigheid] se fout of enige verduideliking verskaf nie. Ek het die instansie, waar ek maandeliks meestal in groot maat gekoop het, vir 10 jaar geboikot.

Pickering ·

In ons land is daar talle werke waar mense net rondstaan en niks doen nie, en ook te veel mense wat aangestel is. Dis ‘n tipiese kenmerk van Sosialisme. In ons dag en tyd is daar egter wêreldwyd talle verontmenslikende werke, soos uitgewys in die bekende antropoloog, David Graeber se pasverskene boek “Bullsh*t Jobs: a theory”.

JAN ·

Christelike lewe is doelgerig soos Rick Warren dit beskryf het. 50 jaar gelede is ons Christelike regering vermoor. Staatskaping. Sedertdien het ons ń rampgedrewe bestaan van die een na die ander ramp tot daar niks welvaart oorgebly het behalwe in die maghebbers en skurke se sakke. Veral die Propaganda Media Kultus floreer in die teater van die absurde soos vingertaaltolke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.