Gedagte vir die dag: Die swakheid van sonde

Vrou_water_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde. Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid.  (Psalm 51:3)

Ek het my kinders van kleins af geleer dat elke keuse in die lewe ‘n gevolg het. Jy kan doen soos jy goeddink, maar dan moet jy ook ten volle verantwoordelikheid neem vir jou keuse. Met ander woorde, jy neem aanspreeklikheid vir dit wat jy gedoen het.

Soms kan mense nie verstaan hoekom hulle lewens in so ‘n gemors is nie. Die feit is dat jy die meeste van die tyd vir jou eie gemors verantwoordelik is deur slegte keuses wat jy gemaak het. So is Psalm 51 geskryf nadat Dawid owerspel gepleeg het met Batseba en deur Natan aangespreek is.

Geen versoeking is so groot dat ons nie nee kan sê nie. God gee vir ons die krag om dit te doen. As ons God se wet op ons hart skryf, sal ons weet as iets nie reg is nie. Die Heilige Gees sal in ons hart werk en ons leiding gee. Die onrus of twyfel is sommer klaar ‘n antwoord.

Wanneer ons voor ‘n versoeking of keuse te staan kom, gooi ons self die kunsmis of gif daarop. Dawid gooi kunsmis op die versoeking en Batseba word swanger! Verkeerde keuses laat ons verdrink in die sonde. As ons begin spartel omdat ons weet ons is verkeerd, raak ons die meeste van die tyd net al hoe dieper vasgevang in die sonde. Ons keer dan ons rug op die Here.

Moenie ‘n vlugteling word nie! Bely jou sondes en loop weer op sy pad met jou hand onlosmaaklik in God s’n. Gelukkig is God die soeker van mense. Hy sal soek tot Hy jou weer vind. Hou op hardloop, God gaan jou in elk geval kry. Gee sommer dadelik oor. Draai om en hardloop liewer in God se arms in, weg van die sonde af!

Here, U weet van alles wat ek gedoen het. U ken my hart. Vergewe my, asseblief! Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.