Lees Handelinge 3:11-19
“Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp …” (Handelinge 3:14)
In sy eerste groot toespraak ná die een op die pinksterdag, trek Petrus die handskoene uit en klim sommer kaalvuis onder die Jode in: Dit is júlle wat van Jesus ontslae wou raak, en nou het julle dit reggekry!
Hy slaan hulle daar waar dit die seerste maak: hul oortreding van hul God se wil toe hulle van Jesus ontslae geraak het. Petrus sê: “Die God van Abraham … het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee – aan Hom vir wie júlle uitgelewer … het …” (v. 13).
Allawêreld! Hoe ongemaklik, hoe skreiend is dié waarheid nie. Johannes sou mos later in sy Evangelie naastenby dieselfde sê: “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh 1:11). En, sou Jesus self op ’n keer uitroep, ’n profeet word oral geëer, behalwe in die plek waar hy grootgeword het. Wat ’n aanklag!
Die ellende hiervan, of dalk juis die troos hierin, is dat die waarheid uiteindelik tóg seëvier. En dat spyt, wanneer dit te laat is, wel sy opwagting maak. Te laat vir trane, sal ons sê.
Sekerlik, ja. Maar is dit te laat vir God? Kan Hy ter elfder ure red wat daar te redde is? Hoe lank loop sy genade voordat dit afgeloop, uitgeloop is?
Vra dit vir die moordenaar wat langs Jesus aan die kruis gehang het. Daardie ellendeling se antwoord sal straks woorde soos “vandag nog” en “paradys” insluit. En sou jy hierdie vraag aan Petrus-die-verloëner vra, verwys hy jou dalk na dié sin in die hart van hierdie toespraak: “… kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis” (v. 19).
Here, hierdie verhale ruk aan my hart. Ek is dan ook een van u eie mense …
Prys die Here God! Amen.
Aan GOD al die eer!