Gedagte vir die dag:  Sy heilige berg?

vrede_berg_see_arms-uitgestrek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 15

Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is … (Psalm 15:1-2)

Hier het ons daardie bekende retoriese vrae wat dikwels as ’n votum voor ’n erediens gebruik word: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?” Dié vrae is bloot die aanleiding tot die breedvoerige antwoord: Die onberispelikes, die waarheidpraters, die model-medemense, die eersteklasgelowiges – dit is húlle wat tot by God mag kom.

Kyk jy na die volledige lysie kwalifiseerders, dan wéét jy: Die kanse dat jy aan hierdie eise voldoen, is skraal. Onmoontlik. Op hierdie dag in die nie-meerso-nuwe-jaar, op die vooraand van die Sondag, moet ongeveer almal hoor dat hulle nie in “God se woonplek” mag kom nie. Dat sy “heilige berg” vir hulle gesluit is.

Nou kan ons ons slim hou en allerhande vrae vra oor waar God se woonplek of sy heilige berg dan nou is, en allerlei opmerkings maak oor die Nuwe-Testamentiese kerkbegrip en God se onbetwyfelde teenwoordigheid by ons … en die punt volledig mis. En dit is dat Godskinders hul plek moet ken.

God se kinders moet weet dat Hy nie hul speelmaat is nie. Nie ’n skadelose ou omie met ’n wit baard nie. Hy is heilig. “Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig” (1 Tim 6:16). Sy kinders word nie in dieselfde asem as Hy genoem nie.

Dat Hy hulle voor sy oë duld, is bitter vreemd. Dat Hy hulle liefhet, is totaal onbegryplik. Dat Hy dit alles boonop sonder voorwaardes doen, is ’n wonderwerk sonder weerga. Dat Psalm 15 se harde waarhede in bloed verdrink het wat van ’n kruis op ’n onheilige heuwel genaamd Kopbeenplek afgestroom het – dít is die verstommende evangelie.

Ek staan voor U omdat Jesus gekruisig is. Ek loof u Naam!

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here dankie vir U Genade vir n mens…Amen

Agter die skerms.....

My God in U naam staan ek op vanoggend. ‘n mens kry baie keer soos vandag net terugsettende dae maar ek staan nog steeds op voor U my God en vra dat U my daardeur sal lei. Amen.