Gedagte vir die dag: Sy plek is nie leeg by ons feestafel nie

 kerse_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons aan Christus verbind is, altyd saamneem in sy triomftog. Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek. (2 Korintiërs 2:14)

“Bring Christus terug in Kersfees,” sê baie mense. Maar Hy is dan reeds hier. Ons hoef Christus nie terug te bring asof Hy iewers deur die loop van die jaar weggeraak het nie. Ons het regtig nie beheer oor Jesus asof ons kan besluit waar en wanneer Hy hier moet wees nie. Ons vat Hom in elk geval ook nêrens heen nie; dis net mooi andersom. Christus vat ons altyd saam in sy triomftog deur die wêreld. Ons is in sy hande. Hy is die Heer wat ons altyd meevoer en saamvat. Só skryf Paulus in 2 Korintiërs 2:14. Maar as daar iets is wat ons wel moet doen, is dit om nog meer bewus te wees van Christus se teenwoordigheid hier by ons in die feestyd. Hiervan gepraat, my ma het soms vir ons gesê: “Dis nie aldag Kersfees nie.” Dit was wanneer ons iets wou hê wat sy nie kon bekostig nie.

Vandag is dit inderdaad Kersfees. Families en vriende kuier orals saam. Daar is ook ’n paar leë sitplekke by feestafels omdat ’n geliefde dalk in die afgelope jaar die tydelike met die ewige verwissel het. Of omdat iemand in hierdie feestyd moet werk. Maar die goeie nuus is dat Jesus oor wie hierdie fees nog altyd en ook vandag gaan, nooit te besig is om by sy geliefde mense se feeste en werksplekke op te daag nie. Of te ver nie. Sy plek is nooit leeg by enige van ons feestafels nie. Of in hospitale, kantore en ander werksplekke waar mense aan diens is nie. Jesus is die eregas by al sy mense. Nie een van God se kinders is in hier die dae alleen nie. Immanuel het nogmaals opgedaag. Hoor daar om sy vreugdevolle woorde: Geseënde Kersfees!

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.