Gedagte vir die dag: Syne!

hande_stiltetyd_oud_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“ … Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee … ” (Johannes 17:6)

Die Heilige Gees bring in ’n sendeling die besef dat hy nie aan homself behoort nie (vgl. 1 Kor. 6:19). Om te kan sê ek behoort nie aan myself nie dui daarop dat ek ’n hoë mate van geestelike volwassenheid bereik het. Die ware karakter van só ’n lewe word daaraan gekenmerk dat, in die alledaagse verwarring, ek myself doelbewus aan ’n ander persoon oorgee deur ’n soewereine wilsbesluit, en daardie persoon is Jesus Christus. Die Heilige Gees verklaar en verduidelik die natuur van Jesus Christus aan my sodat ek één kan word met my Heer, nie dat ek net ’n trofee in sy vertoonkabinet kan wees nie. Die Here het nooit een van sy dissipels uitgestuur op grond van wat Hy vir hulle gedoen het nie. Dit was eers na sy opstanding, nadat hulle deur die werking van die Heilige Gees verstaan het wie Jesus regtig is, dat Hy gesê het: “Gaan … ” (vgl. Matt. 28:19; Luk. 24:49; Hand. 1:8).

”As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe” (Luk. 14:26). Hy het nie gesê dat hierdie persoon nie goed en reg is nie, maar Hy kan nie die woord Myne oor so ’n lewe skryf nie. Enigeen van die verhoudings wat die Here in hierdie vers noem, kan in kompetisie wees met ons verhouding met Hom. Ek mag verkies om aan my ma te behoort, of aan my vrou, of aan myself; as dit egter die geval is, sê Jesus: “Jy kan nie my dissipel wees nie.” Dit beteken nie dat ek nie verlos is nie, maar wel dat ek nie volkome Syne kan wees nie.

Die Here maak van sy dissipel sy eie besitting en neem volkome verantwoordelikheid vir hom: “ … julle sal my getuies wees … ” (Hand. 1:8). Die begeerte wat in ’n dissipel se hart brand, is nie om iets vir Jesus te doen nie, maar om vir Hom ’n volkome vreugde te wees. Die geheim van ’n ware sendeling is dat hy werklik kan sê: “Ek behoort aan Hom en Hy is besig om sy werk in my te voltooi en sy doel deur my te bereik.”

Maak seker dat jy volkome Syne is.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.