Gedagte vir die dag: Tafel

debby-hudson-qa74yh6-xlc-unsplash.jpg_

Foto: debby-hudson/unsplash.com

Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee. (Lukas 24:30)

Jesus het Galilea deurkruis met sy bediening en ook gereeld na Jerusalem gereis, en daarom is Hy dikwels deur dissipels, vriende en selfs Fariseërs na hul huise genooi. Alhoewel tafel-etiket in Romeinse tye baie anders was as vandag (mense het gewoonlik rustig om die tafel gesit-lê), assosieer ons dit steeds met familie, kos en samesyn.

Die Evangelie van Lukas lê besondere klem op die tafel en illustreer daarmee hoe nou verweef gemeenskappe in daardie dae was. Vanaf die feesmaal by Levi se huis waar Jesus gekritiseer is omdat Hy nie gevas het nie, maar feesgevier het en dít boonop saam met sondaars, tot die Laaste Avondmaal, waar sy bediening op die spits gedryf word, teken Lukas nog twee maaltye op. Een daarvan is wanneer die opgestane Jesus die twee dissipels na Emmaus vergesel en waaruit vandag se kernvers geneem is. Elkeen van hierdie geleenthede het Jesus in dissipelskapsmomente omskep.

Mag ons as ma’s en tuisteskeppers hierdie wysheid van God toepas en ons gesinne daagliks om die tafel bymekaartrek, asook gereeld vriende oornooi om by ons aan te sluit. Mag dit in hierdie God-eerbiedige gesprekke wees waar ons kinders sal floreer, lag en leer.

Here, dit is altyd vir my so besonders as ek lees van die maaltye wat U in die Nuwe Testament met vriend en vyand, ongenooide gaste en skares gedeel het. Waarlik, die tafel is ’n plek van vriendskap en gasvryheid. Here, seën my tafel met u teenwoordigheid elke keer as ons in vreugde en liefde saam met familie, vriende en gaste daar vergader. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Heer vir meer as net genade….U is my water en my brood

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.