Gedagte vir die dag:  Te goed om waar te wees

Storm_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Galasiërs 1:6-12

Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. (Galasiërs 1:6)

Om watter rede sou Paulus so verbaas wees? Hy behoort mos te geweet het dat goeie nuus nie altyd en vir almal goeie nuus is nie.

In die gemeente aan wie Paulus hierdie brief rig, was daar mense vir wie dit ’n roeping was om die goeie nuus verdag te maak. Wat Paulus daar verkondig het, naamlik ’n God wat sy arms oopgooi en ’n Jesus wie se genade vryspreek, was vir hierdie verdagmakers te maklik. Te eenvoudig. Te ruimhartig.

Hulle is mense wat met ’n rits voorwaardes vir toegang tot God se koninkryk in hul binnesak rondloop en dié lysie by elke moontlike geleentheid uithaal en streng daarop wys: Julle wat hoop om daar in te gaan, moet onthou dat julle eers aan dié en daai en die ander een moet voldoen.

Só bring hulle die niksvermoedendes en liggelowiges in die war. Want mense wat aanvanklik verstom staan voor God se onvoorwaardelike liefde, word, so lyk dit my, verstommend maklik oorgehaal om die goeie nuus te bevraagteken.

By nabetragting, en so saam met die verdagmakery, klink die Paulusboodskap vir hulle wat onder skuld en skuldgevoelens gebuk gaan, te goed om waar te wees. Dalk sal hulle sug en sê: Ek kon mos gedink het dit kan nie wees nie; sulke gelukkies tref nie vir mý nie.

Dit is oor hulle wat so maklik twyfel dat Paulus verbaas staan. Julle hoef mý nie te glo nie, sê hy. Glo Hom, Hy met die genade wat ook vir julle genoeg is. Hý is jul grootste geluk.

Ek glo, Here! Vir my is die evangelie te goed om nié waar te wees nie.

Bron: Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here dit is gratis en verniet vir ons want U het so duur daarvoor betaal…dankie vir U Genade

OW

Die verdagmakers wat die skrywer noem,herinner aan die Gnostiek 1-6 de eeu NC wat op die Christelike Godsdiens geteer het.Hulle beweer dat hulle alleen oor die geheime kennis beskik het, en mense moes eers aansluit om die geheime kennis te ontvang.Gnostiek beteken dat die Evangelie so geskryf is dat niemand dit moet verstaan nie.Die Tomas Evangelie is ‘n goeie voorbeeld.