Gedagte vir die dag: Teenoor die Koning van harte

 vrou_alleen_swaai_gebrokenheid.jp

Foto: thepositivitysolution.com

Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? (Matteus 7:3)

’n Mens dink onwillekeurig vanuit jou oortuigings dat jy en Jesus aan dieselfde kant staan. Jy is weder gebore, betrokke in ’n gemeente of bediening, jy woon seminare by, hou Bybelstudies en bidure en so meer, en vind dan met ’n skok uit jy staan nie aan sy kant nie. In gister se dagstuk het ons gepraat oor Jesus wat wag vir die regte tyd voor Hy dinge in ons lewe aanspreek – en soms selfs jare kan wag om dit te doen.

Ons, daarenteen, kan dikwels nie wag om iemand se foute en sondes uit te lig en aan te spreek nie. Daar is selfs mense wat dink dit is hulle spesiale bediening. Ons kan ons nie in ons wildste drome voorstel dat Jesus van hierdie persoon se tekortkomings weet en niks daaraan doen nie. Ons bied sommer dadelik ons gewillige dienste aan – veral as dié persoon ons irriteer. Dis dan wat ons ontdek dat ons en Jesus nie aan dieselfde kant staan nie. Ons is gereed om die egbrekers en sondaars met klippe dood te gooi, dan red Jesus hulle uit ons hande en van hulle sonde. Ons is dikwels skaam-kwaad as Jesus dit doen.

Wat spoor ons aan om oor die ander se sonde te praat en dit te wil “regsien”? Dit kan nie ’n volwasse geestelike karakter wees nie, want dan volg ons nie Jesus se voorbeeld nie. Ons sal waarskynlik baie nader aan Jesus kom as ons ’n eerlike antwoord op Jesus se vraag soek. Ons stem saam dat Jesus nie soos ons is nie, maar is nie altyd gereed vir hoe anders Hy werklik is nie. As jy lanklaas verras is deur Jesus se andersheid, was jy moontlik lanklaas in sy teenwoordigheid.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jo ·

Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want GOD IS LIEFDE 1 Joh 4: 8. Sonder liefde is ons NIKS 1 Kor. 13 en die wat dink dat hulle godsdienstig is maar nie hul tonge in toom hou nie, se godsdiens is WAARDELOOS Jakobus 1:26
GOD IS LIEFDE en die liefde is geduldig, vriendelik, sonder afguns, sonder grootpraterigheid, sonder verwaandheid! Die liefde handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, hou nie boek van die kwaad nie! Verbly hom nie oor onreg nie, verheug hom oor die waarheid, bedek alles, glo alles, hoop alles! 1Kor.13 GOD IS LIEFDE, wie nie liefhet nie, ken God nie. Hulle gaan klop om in te gaan en hoor: GAAN WEG, EK KEN JOU NIE. Matt.7:23

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.