Gedagte vir die dag: Tekens?

ATTACHMENT DETAILS deur_slot_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel … nie. Julle moet die gebooie van die Here julle God, sy verordeninge en sy voorskrifte … stiptelik gehoorsaam. (Deuteronomium 6:16-17)

Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. (Matteus 4:7)

Ek glo die Here praat op kreatiewe en wonderbaarlike maniere met ons. Ons moet egter versigtig wees om nie sy arm te wil draai of Hom op die proef te probeer stel, deur onder andere tekens te vra wanneer ons iets wil hê nie. God is nie ons towenaar en ons kan Hom nooit manipuleer nie. Baie mense verlang bonatuurlike en dramatiese tekens van die Here, maar die interessante is dat God Hom gewoonlik eerder deur ’n fluistering openbaar. Ons lees in die Nuwe Testament dat wonders of wondertekens mense in elk geval nie oortuig het om in God te glo nie. Die Fariseërs het byvoorbeeld Jesus se wonders aanskou, maar steeds nie in Hom geglo nie.

As jy antwoorde soek is dit dalk tyd om voor God stil te raak, maar in vandag se gejaagde lewe is dit makliker gesê as gedoen. ’n Mens sukkel om God se stem in die geroesemoes te hoor. Wees geduldig, ondersoek die Bybel en luister.

Natuurlik kan die Here benewens die Bybel met ons deur ander gelowiges praat – dit het al met my gebeur dat die Here dinge op my hart lê terwyl ek na ’n preek luister, ek is al bemoedig deur ’n boodskap op Radio Kansel, ’n vriendin het onlangs vir my ’n vertroostende SMS op net die regte oomblik gestuur. Ek glo hierdie was geleenthede waar die Here met my gepraat en my deur mense bemoedig het. Wees egter versigtig, sommige mense misbruik die woorde “die Here het vir my gesê.”

Miskien soek jy vandag ’n antwoord van die Here wat ’n belangrike besluit betref wat jy moet neem? Vra die Here om jou in jou besluite te lei, Hy gee gewoonlik ’n mens ’n diepe vrede oor die beste besluit. Hy sal vir jou “deure laat oopgaan” in die rigting waar Hy jou wil gebruik.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AntiTweezerTeoloog ·

En wat van al die mense in die ou testament wat vir tekens gevra het? Matt4 word uit konteks aangehaal. Daardie stuk het niks met tekens uit te waai nie. Hoekom wil ons alle ervarings en kenisse van ons geloof in n boks druk en dit op almal afdwing. God weet wat ons nodig het, en as dit n teken is dan is dit goed en reg. Daar is n verskil tussen om God op die proef te stel waar lewens ter sprake is soos die duiwel Jesus versoek het. Jesus se lewe sou op die spel wees deur daardie versoek van die duiwel. Om in verhouding n teken van God te vra is nie vekeerd nie

fred ·

Dankie my Vader, ek is life vir U. Plaas U hand op my en gee my leiding.

charmaine ·

Ons het nodig om te vra maar vir my is dit so belangrik om my gebede te gebruik om Dankie te se. Ja ek vra ook soms vir behoed enbewaarding en hou ons veilig om die paaie en in ons huise.

Maar om dankbaar te wees is persoonlik vir my die belangrikste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.