Gedagte vir die dag: Tel jou woorde

familie-rivier-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig. (Spreuke 10:19)

Dit is nie toeval dat die moeilikste plek om jou getuienis te handhaaf, jou eie huis is nie. Ons grootste toets lê dikwels in die plek waar ons die veiligste behoort te wees. As jy in ’n verhouding is waar daar gereeld onenigheid is, is dit baie moeilik. Dit maak nie saak wie verantwoordelik is vir die twis nie; as daar onenigheid is in jou huis moet jy, as die geestelike leier, iets daaromtrent doen. Dit help nie jy probeer ander mense blameer nie. God het jou aan die hoof van jou gesin gestel. Dit gaan gepaard met sekere verantwoordelikhede; jy kry nie die een sonder die ander nie. Om onenigheid die nek in te slaan, beteken dikwels juis om jou woorde te sluk. Ons teksvers sê baie duidelik: “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.” ’n Huis waar ouers gedurig argumenteer en mekaar verkleineer, is geen plek om kinders in die vrees van die Here groot te maak nie. Hoe kan jy verwag dat jou kinders Jesus moet volg as jy nie die regte voorbeeld stel nie? Jou kinders sal jou sal navolg. Hulle sal óf jou goeie gedrag óf jou slegte gedrag navolg, maar navolg, dié sal hulle!

Vir mans wil ek spesifiek sê: Moenie toelaat dat die vyand jou beroof van die voorreg om die toon aan te gee in jou huis nie. Jy, as die geestelike leier, is die een wat jou seuns moet wys wat dit beteken om ’n vrou lief te hê en te respekteer. Die manier hoe jy jou vrou behandel, stel vir jou dogters ’n voorbeeld van die man waarna hulle eendag sal soek. Moenie afstand doen van jou posisie nie. Die duiwel sal onmin gebruik om jou te probeer vervreem van jou huis en gesin. Neem die leisels in eie hande. Vra God om jou te help om die patroon te verander. Begin ’n nuwe tradisie in jou gesin. Neem jou plek in as geestelike leier in jou huis.

My Vader, ek kom na U toe te midde van onenigheid en ontsteltenis. Vergewe my omdat ek so dikwels die maklike uitweg kies en my emosioneel onttrek. Help my om soms stil te bly en nie so negatief te reageer nie. Ek kies vandag om die verhaal van my huis te verander. Ek wil ’n positiewe voorbeeld wees vir my gesin. Amen.

 Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.