Gedagte vir die dag: Terug kyk

brug_see_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. (Ps 103:2)

Die Here vra van ons om dankbaar te wees. Dis ’n ingesteldheid wat jy kan kweek, en dit begin by ’n dissipline wat jy toepas. Later word dit ’n gewoonte, iets wat sommer vanself kom. ’n Praktiese manier om dié gewoonte aan te kweek, is deur ’n praktyk wat die vroeë Christene toegepas het, naamlik “’n terugblik op die dag wat verby is”.

Dis eenvoudig. En dis ’n maklike manier om te begin om dankbaarheid as ’n gewoonte te ontwikkel. Soms is ’n mens ná ’n lang dag te moeg om te bid, soms sukkel jy selfs om aan die slaap te raak. Maar hierdie “terug kyk”-dissipline help om jou rustig te stem vir droomland, en dit bied jou ’n gulde kans om dankbaarheid ’n leefstyl te maak.

“’n Terugblik op die dag wat verby is”, is net wat dit sê: Wanneer jy in jou bed lê, herroep jy die dag se gebeure voordat jy aan die slaap raak. Jy dink aan hoe jy gereageer het, aan die mense met wie jy in aanraking was, aan die gedagtes en emosies waarvan jy bewus geword het.

Jy fokus veral ook op alles waarvoor jy die Here kan dankie sê. Byvoorbeeld: Was daar iemand wat vriendelik met jou was; mense wat jou met ’n taak gehelp het? Het die Here jou die geleentheid gegee om goed te wees vir iemand anders; kon jy sy liefde aan iemand bewys? Kon jy in die loop van die dag God se hand in jou lewe raaksien?

Hierdie terugblik op die dag word gouer as wat jy dink ’n gewoonte. Dit ontwikkel ook tot die ideale geleentheid om die Here vir spesifieke dinge te dank. Jy kan dalk ook begin om soos Dawid te sê: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie” (Ps 103:2).

Here, dankie dat U elke dag by my is. Help my om u hand in my lewe raak te sien.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hallelujah ·

Dankie Heer vir elke minuut dankie Heer. Ek praat elke dag met God en se net dankie – dankie vir kos vandag – dankie vir water. Net dankie dat ek ‘n werk het. Net dankie dat Hy agter my kyk. En in die middae op pad huis toe is dit my stiltetyd met God en ek praat met hom oor als en vind dan berusting dat ek met iemand kan praat. U is wonderbaarlik groot God en dankie weereens. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.