Gedagte vir die dag: Tevrede omdat God in beheer is

gods-window.jpg

Foto: God’s Window, Mpumalanga

Lees: Psalm 66:1-9

So sterk is die Here dat Hy altyd in beheer van sake is. Hy gee aan ons lewe. Hy sorg dat niks ons onderkry nie. (Psalm 66:7, 9, Die Boodskap)

Wanneer ons glo dat God in beheer is, al gebeur daar dinge met ons wat ons nie kan verstaan of wil aanvaar nie, maak daardie geloof dit vir ons moontlik om ten spyte van ons krisissituasies nie paniekerig te raak nie, maar steeds tevrede te bly. In Psalm 46 praat die digter oor die dinge waarvoor hy bang is. Maar dan besef hy dat sy paniek onnodig is. “As ons wil vlug, kan ons na God toe vlug. As ons beskerming soek, sal die Here ons beskerm. As ons in die moeilikheid is, sal Hy ons help. Daarom skrik ons vir niks nie. Al sou die aarde bewe en dit lyk of die berge in die see wil wegsak, ons is nie bang nie,” getuig hy in die eerste drie verse van die psalm (Die Boodskap).

Dis vir God se kinders moontlik om in alle omstandighede kalm en tevrede te bly omdat ons vir seker weet dat die God wat ons aanbid, volkome in beheer van ons omstandighede is. Wanneer dinge in jou eie lewe weer wil handuit ruk, fokus op die feit dat jou God so sterk is dat Hy steeds in beheer sal bly. Dié God vir wie niks onmoontlik is nie, is by jou en Hy onderneem om jou te red en te beskerm sodra dit nodig sou word. Jy mag maar rustig raak en Hom op sy woord neem.

Here God, ek loof U dat ek vir seker mag weet dat U ten spyte van my omstandighede steeds in beheer bly; dat U onderneem om my te red en te beskerm wanneer dit nodig sou raak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Magda ·

Baie dankie Maroela vir ons dag stukkies elke dag. Dis wonderlik om elke dag inspirasie en krag vir die dag te kry.
Baie jammer mense sal kommemtaar lewer op al lelike gebeure en nie op julle mooi boodskappe nie.
Ons moet glo en vertrou en op kyk na ons Hemelse Vader.

Charlotte Manuel ·

Baie dankie Maroela Media vir die geleentheid om hierdie dagstukkies te ontvang. U weet ek is nog nie lank ingeskryf nie maar as ek my dag stukkie oop maak is dit net vir my en ek kry nuwe krag vir die dag en ek loof en prys die Here somme net daar waar ek besig is om te lees. Weereens baie dankie dat u die woord op hierdie manier versprei.

spioen ·

Onthou net God help diegene wat hulle self help. Die Boere by Bloedrivier het nie gese God is in beheer nie. Hulle het opgestaan en geveg! Daai storie van draai die ander wang is ‘n klomp bog. Gaan lees maar die Bybel oor die Makkabeers wat teen die Grieke opgestaan het.

Magda ·

Spioen, GOD DRIE ENIG IS ALTYD IN BRHEER.
WAS OOK BY BLOED RIVIER IN BEHEER EN HET LEIDING GEGEE .
WONDERWERK

Karooblommetjie ·

En is bogenoemde boodskap nie juis NOU ‘n aansporing vir almal wat in onse God as enigste saligmaker glo, om bymekaar te staan, hande te neem en te bid vir oplossings nie. Ek dank God dat wanneer mense wik, slegs God alleen skik. Baie dankie Maroela.

neelsie ·

Vertrou ons Drie-enige God met ALLES, nie net die groot dinge in jou lewe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.