Gedagte vir die dag: Tevredenheid ten spyte van

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Lees: Filippense 4:6-19

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee. (Filippense 4:6, 11-13, NLV)

Sodra ons die onvermydelikheid van swaarkry erken, raak dit al gaande makliker om tevrede daarmee te wees. Elke mens op aarde kry by geleentheid met ’n persoonlike “doring” te kampe. Toe Paulus vir God vra om syne weg te neem, was God se antwoord nee. Hy beloof wel vir Paulus krag om daardie doring te hanteer en verseker hom dat sy krag juis tot volle werking kom wanneer óns swak is (2 Korintiërs 12:8-9).

As jy Paulus se raad volg en jou eie probleme en bekommernisse met God bespreek, gaan jy ontdek dat hulle al hoe minder word omdat jy hulle nie langer oral met jou saamsleep nie. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle,” beloof 1 Petrus 5:7. Jy hóéf nie so bekommerd te wees nie – jy het mos ’n hemelse Pa wat beloof om vir jou te sorg; daarom kan jy selfs in swaarkrytye God se vrede beleef. “Contentment is not the natural human response to difficulty. But we can – we must – learn it,” skryf Barcley in sy boek The Secret of Contentment. Maak vandag Paulus se boodskap in die kernverse joune: Leer om tevrede te wees met jou eie doring omdat God se krag ook in jou lewe tot uiting sal kom juis wanneer jy swak is.

Hemelse Vader, ek sukkel tog so om tussen al my dorings deur tevrede te bly. Maak dit vir my moontlik omdat ek weet dat U sal sorg. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.