Lees: Filippense 4:10-14
Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filippense 4:11-13)
Tevredenheid is nie ’n aangebore deug nie. Elke mens moet léér om tevrede te wees, dit kom nooit vanself nie. Paulus is hier vir ons tot voorbeeld. Alhoewel dit dikwels nie met hom goed gegaan het nie, is hy nie gedurig op soek na iets beters nie. Hy kry dit reg om tevrede te wees met sy omstandighede van die oomblik. Of hy nou “sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of so veel kos het dat ek nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het” (Filippense 4:12, Die Boodskap) vir hom is dit eintlik maar om’t ewe, getuig Paulus. Hy kry dit selfs reg om lofliedere tot eer van God te sing wanneer hy onskuldig in die tronk gegooi word.
Hoe tevrede is jy wanneer jy veronreg voel? Ekself is baie gou op my perdjie wanneer ek meen dat ek te na gekom word. Van tevredenheid het ek nog baie te leer! Elkeen van ons behoort te léér om tevrede te wees, skryf Barcley. Hy sê ons moet dit bestudeer en ons denke herprogrammeer (The Secret of Contentment). God se definisie van tevredenheid verskil hemelsbreed van ons s’n. Maar soos God tevredenheid in die lewe van Paulus moontlik gemaak het, kan Hy dit ook in jou lewe doen as jy Hom daarvoor vra.
Here, sal U my asseblief leer om soos ’n Paulus in alle omstandighede tevrede te wees. Amen.
Dankie Here vir alles wat U vir ons doen.Ons kan net al die eer en lof aan u gee.
En geniet ek vandag se “gedagte vir die dag”. Dit is so waar en ek vergeet so baie om net tevrede te wees met wat Jesus vir my gegee het. Net Hy weet wat ek nodig het. En ek moet hom vertrou dat ek nooit n tekort sal he nie. Hy sal my gee wat ek nodig het!!!
Dit is so waar!!!! As ek al my seëninge almal moet opnoem is die lysie sooo lank dat ek skaam is om te kla. Dankie Heer! Ek is so bevoorreg om U seën te ontvang.
Jesus dankie dat U in altyd voorsien . Jesus ek het U lief!