Tienermeisie trotseer ernstige vervolging vir haar Christenskap

Ondanks hul moeilike pad, kan Ijanada en Warasini vandag van die Here se genade in hul lewens getuig (Foto: Geopende Deure)

Ijanada, ʼn jong moeder van Nigerië, moes as tienermeisie leer om op haar eie voete te staan en moeilike omstandighede te oorkom. Die uitdagings wat sy van kindsbeen af ervaar het, het haar egter net meer vasbeslote gemaak om in haar Christenskap te volhard en Jesus nooit te versaak nie.

Die rebellegroep Boko Haram en ander Moslem-ekstremiste versuur Christenvroue se lewens op ʼn daaglikse basis in Nigerië. Dié Afrikaland beklee vanjaar die negende plek op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van lande waar Christene die ergste vervolging vir hul geloof ervaar. Nigerië is ook weereens in die topposisie op die lys as die mees gewelddadige land vir Christene wêreldwyd.

Christenvroue leef voortdurend in vrees vir hierdie rebellegroepe. Honderde vroue is al ontvoer, verkrag en as gyselaars aangehou. Hulle word dan gedwing om Islam aan te neem en met hul ontvoerders te trou, terwyl hulle as slawe werk.

Moeilike pad na volwassenheid

Ijanada is in 2014 tydens ʼn aanval op haar dorp deur Boko Haram ontvoer. Hoewel sy slegs 14 jaar oud was, is sy gedwing om met een van die soldate te trou. Sy was nog ʼn kind, maar moes vinnig grootword in hierdie liefdelose huwelik waar sy twee keer swanger geraak het.

“Ek is vier jaar lank deur Boko Haram gevange gehou voordat ek ʼn kans gekry het om te ontsnap. My tyd in aanhouding was een lang nagmerrie waartydens ek hongerte, mishandeling en pyn deurgemaak het. Die Here se genade en krag het my egter in staat gestel om vas te byt.

“Ek het kort na my gedwonge huwelik swanger geraak met ʼn seuntjie genaamd Luka… ek het weer swanger geraak – hierdie keer met ʼn dogtertjie.

“Ek was sowat twee maande swanger met my dogtertjie toe ek een nag in 2018 onverwags ʼn kans gekry het om te ontsnap. Die kamp was verlate omdat al die rebelle uit was, en ek het besef dat ek hierdie kans moes aangryp. Ek het Luka, wat toe twee jaar oud was, gegryp en so vinnig as wat ek kan in die woud ingevlug. Nadat ek dwarsdeur die nag gehardloop het, het ʼn vreemde soldaat op my afgekom en my gehelp,” vertel sy.

Redding en tuiskoms

Ijanada hou Warasini omhoog terwyl sy kraai van die lag (Foto: Geopende Deure)

“My vreugde was onbeskryflik groot toe ek uiteindelik met my familie herenig is. Hulle was baie bly om my te sien en het my terug verwelkom.”

Toe Ijanada se babadogtertjie gebore is, het sy haar Warasini genoem, wat beteken “Ek het nooit gedink dat ek sou terugkeer huis toe nie”. Sy het op hierdie naam besluit as getuienis van God se krag en die genade dat Hy haar veilig tuis gebring het.

Die plaaslike gemeenskap het Ijanada en haar twee kinders egter verwerp en gespot. Luka en Warasini was onwelkom omdat hulle ʼn rebelle-soldaat se kinders is. Die dorpenaars glo dat die rebelle se haat, rebelsheid en radikalisme aan hulle oorgedra is.

Traumasorg en vrymaking

Geopende Deure bied traumasorgprogramme aan vir Christenvroue in Nigerië, wat soos Ijanada gevangenskap en seksuele geweld deur Boko Haram deurgemaak het. Volgens Ijanada het haar lewe weer nuwe betekenis gekry nadat sy deel van hierdie program geword het.

“Die traumasorgprogram het my gehelp om my depressie, vrees, trauma, verwerping en ander negatiewe gevoelens te verwerk. Ek sukkel steeds om volkome te herstel, maar weet nou dat ek die bitterheid en onvergewensgesindheid teenoor my ontvoerders moet afskud. Ek is geleer hoe belangrik ware vergifnis is en dat ek moet vergewe om myself te bevry,” sê sy.

Met behulp van die plaaslike kerk, ondersteun en versterk Geopende Deure vervolgde gelowiges in Nigerië deur verskeie projekte soos vervolgingsvoorbereidheid-opleiding, Christelike opleiding, opleiding in sendingwerk en gemeenskapstransformasie, dissipelskap, leierskapsontwikkeling, regshulp, traumaberading en noodleniging.

Bring hoop vir Nigeriese Christene

Jy kan dié Paastyd die hoop van Jesus se opstanding lewend maak vir vervolgde Christene in noordelike Nigerië. Klik hier om te sien hoe jy kwesbare vroue soos Ijanada kan bystaan en hulle kan help om hul trauma te verwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.