Gedagte vir die dag: Toe én nou

Vrou_water_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 4:7-8

Daar is baie wat sê: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” (Psalm 4:7)

Dit is klaarblyklik maar in die mens se aard, sê die digter, om vooruit te wens en agtertoe te sug. Die wens hier is dat die Here tog weer voorspoed sal bring, want kyk net wat het Hy in die verlede gegee – groot vreugde!

Hierdie siening het baie meriete, nie waar nie? Ons maak staat op die lesse wat die geskiedenis ons leer, veral dan dié uit God se verhaal met ons. Ons herinner ander mense, ook moedeloses soos ons, én onsself dikwels aan die Here se trou deur na sy optrede, sy ingryping, in die verlede te verwys. Ons sê: Hy het mos destyds … Inderdaad. God se pad met ons lê aan die hart van sy wese. Hy is trou aan Homself, Hy los nie die kinders wat Hy uitgekies het nie. Hy laat hulle veral nie aan hulleself oor nie. Keer op keer red Hy hulle van hul ontrou, kom Hy hul ongeloof te hulp. Kom sy krag tot volle werking in hul swakhede. Herinner Hy sy kinders aan wie Hy is en wat Hy alles vir hulle gedoen het.

Dan hoop Hy sekerlik dat hulle Hom tog sal glo wanneer Hy op vele maniere sê: Jy is Myne!

Sal hulle wat aan Hom behoort dan ooit vergeet hoeveel vreugde Hy hulle reeds laat belewe het? Sal hulle ooit ophou getuig van hul opperste bevoorregting, selfs bó die seëninge van diegene wat ’n oorvloed van alles het?

O God van Jakob, U het weleer op see en land ons vadere behoed. Wil ons en ook ons kroos voortaan u guns en trou betoon.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Esti ·

Iets vreeslik het met my gebeur. Ek het my geloof in God verloor. Wat kan ek doen om dit te herwin?

Lena Jonk ·

Esti, dit gebeur soms met n mens, maar ek wil uit my swakheid vir jou se dat die duiwel n mens op die allermoontlikste manier aanval. Al raad wat ek vir jou kan gee, gaan in stilte en gesels met God vertel Hom alles, hoe jy voel wat jou pla en ek kan jou verseker daar sal vir jou n lig kom maar onthou satan gaan weer hard probeer maar verdryf hom in Jesus se naam. Hoop jy gaan weer moed en geloof kry. Baie sterkte

Rita Labuschagne ·

Esti dis wat die bose jou wil laat glo! Dis leuens! Bly net roep na God, Hy sal jou antwoord!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.