
Foto: freebibleimages.org
Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.” (Johannes 20:17)
Dit is nogal ’n ding as jy vasloop in iemand wat jy gedink het dood is. Dit is presies wat hier met Maria Magdalena gebeur. Sy loop in Jesus vas net nadat Hy die dood se kettings afgegooi het. Sy dink egter dit is die tuinier wat diens doen in die tuingraf waar Hy begrawe is. Sy dink dat hierdie “tuinier” Jesus se liggaam om een of ander rede verskuif het. Jesus ruk haar tot haar sinne as Hy haar reguit aanspreek. Dan verander haar verbaasdheid in een oogwink in aanbidding. Net daar kry Maria Magdalena die opdrag om vir die apostels te gaan vertel dat Jesus opgestaan het.
Elkeen wat anderkant die leë graf in Jesus vasloop verander in ’n oogwink van ’n verbaasde tot ’n gestuurde. Dan word twyfelaars en treurendes soos Maria Magdalena gesante van die Here. Daar is al die hartseer en pyn van die kruis vergete. Jesus het opgestaan. Gaan vertel dit wêreldwyd. Roep dit kliphard uit van die dakke af. Leef dit luidkeels met jou hele lewe agterna. Die kruis is kaal. Die graf is leeg. Jesus leef. Ek en jy ook!
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Jesus het waarlik opgestaan.
Ja Hy het waarlik opgestaan…..sodat ek mag leef…Amen