Gedagte vir die dag: Toekoms ingekleur met sy beloftes

hartseer-vrou-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” (Numeri 6:26 – AFR83)

Die Here gee aan Moses die opdrag van die priesterlike seën en sluit hierdie seëngroet dan af met die woorde: So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën” (Numeri 6:27). Wanneer ons die Naam van die Here oor ons en ons toekoms uitroep, sal ons geseënd wees! So ʼn oneindig kosbare belofte.

Die Here beloof in hierdie seëngroet om ons te seën en te beskerm. Hierdeur roep Hy sy Naam as Almagtige Vader, Heilige en Ewige God oor ons uit. Die Here beloof om tot ons redding te verskyn en aan ons genadig te wees. So roep Hy sy Naam as Alomteenwoordige Verlosser en Saligmaker oor ons uit. Hy sluit af met die belofte om ons gebede te verhoor en aan ons vrede te gee. Daardeur roep Hy sy Naam as Wyse, Alomwetende, Liefdevolle en Onveranderlike Vader en Vredevors oor ons uit.

As ons sy beloftes en die onbeperkte krag daarvan ten volle kan begryp en in ons harte vasgryp, sal ons die toekoms met ʼn lied in die hart tegemoetgaan. Ons sal die eer van die Here dag en nag besing. Sy Naam roem om sy oneindige liefde en trou. Die Here het sy Naam en sy Woord bo alles gestel. Wanneer ons in geloof uitroep na Hom, sal Hy ons gebede verhoor, ons van binne versterk en aan ons die mooiste toekoms en dit wat goed is, gee.

Beteken dit dat daar geen teenspoed oor ons pad sal kom nie? Nee, maar dat ons met harte deurdrenk met vrede, ook hierdie moeilike tye kan aandurf, met die wete dat Hy altyd getrou en regverdig is en alles ten goede vir ons sál laat meewerk!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Sy Naam
Wyse
Alomwetende
Liefdevolle
Onveranderlike
Vader en
Vredevors

Amen

Yvonne ·

Dankie Here U hou elkeen van ons vas in volkome liefde en genade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.