ToekomsVenster: 2020, laat dit juig!

Foto: Juanita Badenhorst

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. – Jesaja 9:5

Ek staan in die ry van ʼn bekende winkel gereed om vir my inkopies te betaal. Die ry vorder fluks en die een na die volgende kliënt word geroep om sy sake by die kasregister af te handel. So met die aanbeweeg let op talle tydskrifte wat op die rak uitgestal word, oor bykans elke onderwerp denkbaar. Een daarvan is ʼn bekende tydskrif wat lesers vertel van idilliese plekke in ons mooi land waar hulle gerus maar by kan aandoen. Die Afrikaanse tydskrif het onder by die datum die woorde – “2020, laat dit juig”.

Sjoe, dis baie mooi nie waar nie?

Laat dit juig. Ons lewe in ʼn wêreld van negatiwiteit en hopeloosheid. Ek lees deur verskeie berigte en artikels wat aandui wat ons op politieke, ekonomiese en maatskaplike terrein kan verwag in 2020. Min daarvan is positiewe leesinhoud. Dis maar droewig en hartseer. Selfs in die eerste paar dae van die nuwe jaar dreig oorlog in die Midde-Ooste, ontbeer mense honger en werkloosheid, word mense genadeloos in Melville afgemaai en neem sommige politici ʼn dreigende houding in, om nie eers van fase ses beurtkrag te praat nie.

Dit is juis dan dat hierdie woorde my aanspreek, “laat dit juig”. Die woorde van die bekende “Juig al wat leef juig voor die Heer” begin sommer spontaan in my kop draai. “Dien God met blydskap gee Hom eer. Kom nader voor sy aangesig en prys Hom met ʼn lofgedig” en wat daarop volg.

Inderdaad. Slegte nuus se voet. Dit gaan ons nie so kniehalter dat ons sommer uit die staanspoor negatief en beswaard is nie. Ons is nie alleen nie, dit immers is die betekenis van die bekende uitroep, “Immanuel, God met ons”.

Rom. 8 leer ons: “God is vir ons, wie kan dan teen ons wees”?

Wie vaskyk in die hier en nou, sal teleurgesteld bly. Wie reken met die waarheid dat Jesus aan die regterhand van God die Vader sit en Koninklik oor hierdie wêreld heers, word bemoedig.

Sing vrolik. Hef die stem na bowe. Regverdiges verhef die Heer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.