ToekomsVenster: Aan Hom behoort die heerlikheid

(Foto: Josh Felise/Unsplash.)

Romeine 11:36 – Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

Sjoe, die Woord van die Here is ryk en omvangryk! Jy kan die skatte daarin verpak in ʼn leeftyd nie ontdek nie. Daarvoor is ʼn ewigheid nodig. Dit is wat God voorberei vir elke ware gelowige. Die verbasing, verwondering en verrassing sal nooit ophou nie. Die ewigheid is een aaneenlopende “wow” ervaring. Jou mond sal spreekwoordelik altyd oophang. Jou oë sal lafenis vind in die werk van sy hande.

Jy sal elke oomblik wil indrink en bang wees dat jy iets daarvan gaan mis. Jy sal nooit slaap nie want slaap sal die verwondering ontbreek. Die verwondering sal jou mateloos energeer. Jy sal gaande wees, handeklap en lofsange uiter. Jy sal soene gooi na die troon en eerbiedig buig.

Die woord heerlikheid, glans, majesteit, glorie, sê iets van wat ons sal beleef.

Trouens iets daarvan is reeds in hierdie lewe, ons aardse reis ontsluit.

“Uit Hom en deur Hom en tot Hom” is alle dinge.

Hoe volledig kan dit gestel word?

Die gedagte van God se insluitende genade het telkens hierdie week na vore gekom. Hy is volledig en wie Hom vertrou deel toenemend en ontvouend is daardie volheid.

Dat die heerlikheid aan Hom alleen behoort, herinner eweneens aan die bekende Eksodus 20. “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie” lui die teks.

Geen gesnede beeld of gelykenis of enige iets anders wat die onvervreembare plek wat God in die lewens van mense wil inneem, kan verdring nie.

God is inderdaad jaloers, die Bybel sê so. Nie jaloers in die negatiewe en sondige manier waarop ons dit interpreteer nie. Eerder beskermend en ontfermend jaloers omdat Hy weet dat ander gode sy kinders op paaie lei waar daar net hartseer en teleurstelling wag.

Sy Seun Jesus, is die openbaring van die sagte hart van God. Daarom noem ons Hom “Abba Vader”, “Pappa God” soos baie jongmense bid.

Sy heerlikheid glans en glorie is vertroostend, bevrydend en beskermend in ons lewens. Hy is die blink môrester en die hoop van hierdie wêreld.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Voor U my Here staan ek in verwondering….U die Alfa en die Omega

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.