ToekomsVenster: Afhanklik in die stryd


Oorgawe-aan-Jesus

Argieffoto.

Ef 6:18-20: Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. Ter wille van hierdie evangelie is ek ‘n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.

Paulus het pas beskryf dat ons is ‘n stryd gewikkel is (6:10-17). Dis nie teen mense nie. Dis teen magte wat sterker as ons is. Dis hoekom ons soos soldate moet aantrek. Ons klere is die Woord van God, die evangelie, die waarheid, vryspraak, verlossing, geloof en die bereidheid om die evangelie te verkondig (6:14-17).

Dis egter nie ’n verlore stryd nie. Christus het oorwin!  Daarom is die kernwoord in Ef 6:10-20: staan op jou plek.  Bly waar jy reeds is (6:11,13,14): ‘sodat julle op julle pos kan bly …(11), sodat julle nog op julle pos kan bly staan …. Bly dan op julle pos’ (13,14). C F D Moule skryf dat die beeld wat in hierdie verse na vore kom nie dié van ’n opmars of aanval is nie, maar dié van die beskerming van die fort van die hemelse koning.  Om hierdie stryd tot die einde te voer en nie ’n duimbreedte af te staan nie – daarvoor het God reeds alles geskenk!

Nadat Paulus oor militêre beelde gebruik het om die wapenrusting van die gelowige te beskryf, fokus hy nou op gebed. Gebed is nie deel van die wapenrusting nie, maar beskryf die gees en gesindheid, die geestelike ingesteldheid van die gelowige dwarsdeur die stryd.

Hy het ook ’n intense behoefte aan gebed. Paulus vra direk dat die mense vir Hom moet bid, omdat hy ‘n ‘gesant in boeie (kettings)’ is. Dit verwys na sy gevangenisskap, maar die begrippe is ook ironies bedoel. Soos ‘n verteenwoordiger van ‘n land spesiale klere dra, is sy boeie soos kettings om die nek van ’n gesant, want Hy is ‘n gesant van Jesus Christus. Hy sal nie noodwendig vry wees nie, maar hy wil hê die evangelie vrye loop sal neem.

Omdat die stryd voortduur, moet ons ook by elke geleentheid gedurig bid.  Gebed is die beskrywing van wat dit beteken om ons krag in die Here en in sy groot mag te soek (6:10).  Dis afhanklikheid van God. Juis daarom bid ons deur die Gees.  Ons gees en die Heilige Gees is verbind. Deur die een Gees het ons toegang tot die Vader (Ef 2:18).  Gebede gedryf deur ons eie begeertes staan teenoor die gebed wat deur die Gees geïnspireer en gelei word.

Terwyl God se wapenrusting ons teen die magte van die bose beskerm, staan ons op ons knieë voor Hom vir mense wat saam met ons in hierdie stryd gewikkel is. Dit moet by elke geleentheid gebeur!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

neelsie ·

Wees gehoorsaam, aan die Woord (wil) van God.
Bekeer julle en laat die Heilige Gees julle lewe en gedagtes beheer.
Bid volgens God se Wil , en Hy sal Sy beloftes hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.