ToekomsVenster: Afsondering en selfsorg

(Foto: Benjamin Davies/Unsplash.)

Gister het ek vertel hoedat ek op die mooi frase, die fees van afsondering, gekom het. Dankie weer dat ek dit kan deel.

Ja, ons gedagtes raak soms verstrengel as ons met onsself besig raak. Dit is egter ʼn noodsaaklike oefening wat van tyd tot tyd onderneem moet word.

Ons elkeen individueel bly ons “naaste-naaste” en sal uiteraard nadink oor wat en hoe ons leefwêreld geraak word deur hierdie gebeure. Liefde vir self is nie verkeerd nie, trouens dit is Bybels. Die Here verwag nie van ons om afstand te doen van eie belang en gesondheid nie.

Die metafoor van tempel van die Heilige Gees is bekend. Daardie tempel moet opgepas en versorg word sodat die inwonende Gees sy doel daarmee kan bereik.

Hier en daar is ons verstaan van God se bedoeling met ons ietwat skeefgetrek. Wie self nie kosbaar ag, liefhet en versorg nie en verwaarlosing as geestelike diens beleef, is op ʼn dwaalspoor. Dit is soos die spreekwoordelike suurstof op ʼn vliegtuig wat skielik druk verloor: die masker eers op jou eie gesig en dan help jy die persoon langs jou. Bewustelose, desnoods dooie mense, beteken nie veel vir die mense in nood rondom hulle nie!

Die motivering agter selfsorg is egter belangrik. Wanneer dit oor selfhandhawing en sorg ten spyte van ander gaan is daar fout. Immers, my liggaam is tempel van die Heilige Gees. Paulus roep mense wat in Christus Jesus deel gekry het aan die nuwe lewe om elke deel van hulself in diens te stel van ander en besig te raak met die goeie werke waarvoor God hulle bestem het.

Dalk getuig die wyse waarop mense winkelrakke vooraf leeggekoop het van ʼn verskraalde verstaan van selfsorg. Dink ʼn bietjie, sonder verwyt en veroordeling, daaroor na.

Ander het koers gekies see toe en oproepe om nie na ander provinsies te reis nie verontagsaam. Ja, elke geval moet seker afsonderlik beoordeel word.

Die wyse waarop sommige individue en sakeonderneming voorraad aangekoop en teen buitensporige pryse te koop aangebied het vertel ook ʼn storie, sonder om die gesonde beginsel van vraag en aanbod te ontken. Ondersoeke word gedoen na winkels wat skielik pryse buite verhouding gelaai het en in die proses die broosheid van die hele samelewing uitgebuit het.

Die Psalmdigter vra, wat is die mens dat U aan hom dink? (Ps.8) As ek vir ʼn enkele oomblik by die vers vertoef beleef ek God se genade.

Inderdaad, ons selfgerigtheid is nie ten behoewe van nie, maar ten koste van. Daarvoor moet ons vergifnis vra.

Pas jouself mooi op. Jy vertoon die lewende Christus en die inwonende Gees. Ek dink nie Jesus was te midde van baie ontberinge ooit onversorg en verwaarloos nie. Ek vermoed sy dissipels het ook gesond daaruit gesien. Hulle het hulself dikwels onttrek om net weer met hulself en hul Vader op te vang. Dan weer vind ons hulle tussen die siekes, verwaarloosde of besetene mense, besig om genesend en herstellende op te tree.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.