ToekomsVenster: Alle sondaars welkom

(Foto: LeeAnn Cline/Unsplash)

“Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: ‘Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?’ ‘Niemand nie, Here,’ sê sy. Toe sê Jesus: ‘Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie’.” – Johannes 8:10-11

Ai, die vooroordeel en valsheid wat in ons skuil. As ons net op ander se sonde, mislukkings, tekortkominge en stryd kan fokus, kom ons skotvry daarvan af. Dit is wat gebeur het toe die Skrifgeleerdes die vrou wat glo in owerspel betrap is, voor Jesus se voete kom neerwerp het.

Jy is bekend met daardie gedeelte.

Hulle verwagting was dat Jesus die wet van Moses sou onderstreep, die eerste klip sou optel en die skedel van die vrou deurboor.

Jesus buk egter af en skryf in die grond.

Wat sou Hy skryf? Nee, ek weet nie wat Hy geskryf het nie maar ek weet wat ek sou geskryf het as ek Hy was.

“Vader, sien hierdie venynige en bevooroordeelde mense reg”.

O gaats, ek sou ook in die slag gebly het want ek het deel aan die agterdog en venyn wat hierdie wêreld kenmerk. Derhalwe eerder: “Here, wees my as sondaar genadig”.

Jaco Strydom het ʼn lied geskryf, genaamd “Alle sondaars welkom”. Daarin vervat hy bykans elke vorm van sonde en oortreding aan ons bekend – ongeag wie jy is en wat jy gedoen het en waarmee jy besig is – die Here sê: “Welkom”.

Dit is inderdaad wat die kerk en die plaaslike gemeente moet wees, ʼn ruimte waarin alle mense − soekende mense, sondige mense, stukkende mense, rant mense en verstote mense − ʼn tuiste vind.

Geen veroordeling nie, maar ope arms. Warmte, omgee, vriendelikheid, sorgsaamheid, barmhartigheid – Jesus se gesindheid.

Los die Here se werk vir Hom. Hy doen die oortuiging deur die Heilige Gees. Dit is nie ons werk nie.

Ons taak is nie om mense op hul sonde, gebreke en mislukkings te wys nie, die samelewing doen dit reeds met ongenaakbare oortuiging.

Ons taak is om ʼn plek van herstel in te rig en dankbaar sorg te verleen.

Immers, nie lank gelede nie het ek self stukkend, gebroke, verneder, hartseer, mishandel en verinneweer by God se hospitaal, sorgsentrum, rehabilitasiesentrum en die plaaslike gemeente aangekom.

Alle sondaars welkom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.