Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here. – Psalm 24:1
Dat ʼn mens met verantwoordelikheid moet omgaan met die middele wat die Here aan jou toevertrou het spreek vanself. Ons is rentmeesters van alles en moet dit met verantwoordelikheid bestuur. Om egter krampagtig vas te hou aan goed wat in elk geval nie aan jou behoort nie is om energie te vermors. Alles behoort aan die Here, ook die mens. Ons is hoogstens tentmeesters van dit wat die Here aan ons toevertrou het om namens Hom te bestuur. Dit hang saam met die groot kultuuropdrag wat ons van God ontvang het Genesis.
Die feit dat alles aan die Here behoort bring ook ʼn stuk vryheid. Na die skepping is Hy steeds besig met die onderhouding van alles wat Hy so skitterend tot stand gebring het. Maar juis omdat alles aan die Here behoort mag ons nie onverantwoordelik omgaan met bronne en middele nie. Ons leef in ʼn tyd waarin “ekologie profete” waarsku teen die vermoë van die aarde om steeds in die behoefte van die mensdom te voorsien. In so ʼn tyd word almal opgeroep om te spaar en op te pas. Die feit dat die bronne in die mate verwaarloos het hang sekerlik saam met die onverskillige omgaan daarmee. Finansiële gewin en selfverryking het in ʼn hoë mate daartoe aanleiding gegee. Om die natuur skaamteloos uit te buit is verder baie onvriendelik teenoor ons nageslag. Generasies wat kom moet ʼn lewe maak van dieselfde aarde waarop ons onsself bevind.
Die teks stem ons almal tot nadenke.