ToekomsVenster: Alles het nuut geword


hawaii-berge_wolke_valleie_Pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Romeine 6:16

Julle weet tog: As julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.

1 Korintiërs 6:19-20

Of besef julle nie dat julle liggaam ʼn tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: Julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

God is heilig en sy Persoon getuig daarvan. Dis noodwendig dat Hy van sy kinders en volgelinge niks anders as lewens wat deur heiligmaking gekenmerk word, sou verwag nie. Heilig beteken afgesonder en eenkant gesit. Ge-soneer en ge-taak om God se plan vir hierdie wêreld uit te voer. Die geloofsgemeenskap staan as heiliges bekend en elke individuele gelowige is heilig. Ons het ʼn besondere status vanweë die reiniging en versoeningswerk van Christus. Ons is God s’n en moet as eiendomsvolk sy dade luidrugtig verkondig.

1 Korintiërs 3:17

As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

Dit is verrassend dat gelowiges nie verstaan watter betekenisvolle en ingrypende verandering in hul “status” plaasgevind het uit hoofde van hul wedergeboorte nie. Alles het verander. Alles het nuut geword. Die “ou dinge” het verbygegaan. As iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel. Alles nuut, nie alleen as geloofsgegewe nie, maar ook as imperatief, opdrag en opgawe. Leef nou soos mense wat uit die dood opgestaan het en lewend geword het.

2 Korintiërs 5:17

Iemand wat aan Christus behoort, is ʼn nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda ·

Ek dink gewone kerkgangers en wedergebore christene verskil. Baie is wedergebore en het nuwe mense geword ander gaan kerktoe maar het nie nuut geword nie gaan kerktoe uit gewoonte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.