ToekomsVenster: Alles is genade

(Foto: Ameen Fahmy/Unsplash)

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. – Efesiërs 2:4

Geeneen van ons kan roem op ’n voorbeeldige lewe wat barmhartigheid verdien nie. Die Bybel leer dat almal gesondig het en verdien om verlore te gaan.

God bewys egter sy liefde aan ons toe ons nog sondaars was:

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. – Romeine 5:8

Liefde en genade, ontferming en guns, goedheid en sorg, lankmoedigheid en trou lê alles in die betekenisveld van barmhartigheid. Laasgenoemde is ten diepste iets wat na jou toe kom sonder dat jy daarop kan aanspraak maak.

Dit word grafies onderstreep en demonstreer in die volgende twee teksverse. Die volk van die Here was kru ontrou. Hulle harte het gedurig geneig na afgode en perversiteit. Sorg vir die hulpbehoewendes is nagelaat en selfsug en eiebelang het botoon gevoer. Ten spyte van herhaalde oproepe bly hulle in gebreke om volhoubaar gehoorsaam te wees. Tog bewys die Here barmhartigheid.

Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. – Joël 2:13

Dat die Here so genadig en liefdevol kan wees gaan ’n mens se verstand te bowe. Dit laat ’n mens in verwondering voor Hom staan.

Dankbaarheid is die basis van ’n gelowige se houding. Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen!

God is in Christus Jesus die vergestalting van barmhartigheid.

Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. – 1 Petrus 1:3

Dank Hom nou vir sy onuitspreeklike genade in jou lewe. Wees nou óók genadig, barmhartig teenoor ander mense, veral die wat jou te nagekom het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.