ToekomsVenster: Alles tot eer van God

(Foto: Alex Perez/Unsplash.)

1 Kor. 10:31-32 – Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie.

Ek is bekommerd oor die wyse waarop mense aanstoot gee en aanstoot neem. Miskien moet ons by laasgenoemde begin.

Watter mense neem aanstoot en maak dit ook duidelik dat hulle aanstoot geneem het?

Ek bedoel uiteraard nie dat ʼn mens nie dinge moet uitpraat en onduidelikhede uit die weg geruim moet kry nie. Uiteraard nie. Maar as ʼn mens gedurig in ʼn tweegeveg betrokke is, altyd met gebalde vuiste rondloop en oral vyande maak is daar ietsie wat aandag vra.

Die ego van ʼn mens is ʼn slawedrywer. Dit ʼn moeilike baas om voor te werk en hy is nooit tevrede nie. Hy wil homself ten alle koste handhaaf en in alles sy sin kry. Hy moet ongeag wie en wat in die slag bly die geveg wen. Hy kompeteer verbete en gee nie bes nie. Hy lek sy wonde en hou hulle stukkend en aan die bloei. Is die ego so aan die werk in jou?

Die insig is nie om jou te verneder of seer te maak nie, inteendeel. Ons sukkel almal met die ego en moet ʼn definitiewe afspraak daarmee hê. Die ego gee daarom ook aanstoot.

Nou dit lê op die weg van mense om aanstoot te gee. Ons doen dit almal en het dit al almal gedoen. Die probleem kom wanneer ʼn mens nie op jou spoor kan terugloop en verskoning vra nie. Daar is darem ook ʼn manier om jou misnoeë te kenne te gee.

Verdraagsaamheid en lankmoedigheid met mekaar is twee deugde wat ons vinnig sal moet aanleer as ons in ʼn “nuwe normaal” wil leef.

Mens noem dit eintlik volwassenheid om onder beheer van die Heilige Gees te lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.