ToekomsVenster: Altyd geduldig, genadig en liefdevol

Foto: Diogo Nunes/Unsplash

Ons is met die Woord besig maar eintlik is dit God se Woord wat met ons besig is. In die teologie sê ons, ons doen ’n “eksegese” van die Woord terwyl dit andersom is. Hy bring wat aan die binnekant aan die gang is op na die oppervlak.

Ek wil graag tuiskom by die gebed wat die profeet Esra bid as hy na die Here toe kom. Sy volk het met heidene ondertrou en hulle verlei om afgode te dien. Esra tree in vir die volk, hy praat met die Here namens die volk.

Luister na die teks: “Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur, my hare en my baard uitgetrek en verslae gaan sit”. – Esra 9:3

Ons het reeds met mekaar gesels oor die gemoedstemming en intensiteit van rou en berou. Dit gryp die hele mens aan. Nie vertoon sodat ander menses sal sien en ons die soort vroomheid sal aanprys nie.

Veel eerder ’n innerlike verskeurdheid (‘n metafoor van klere wat geskeur is).

In die volk van die Here se geskiedenis was daar baie uiterlike seremonies en handelinge maar wat nie innerlik resoneer het nie.

Die teks in Kronieke praat van berou toon. Wat gebeur in ’n stukkende hart? Esra trek sy hare en baard uit en sit verslae onder oortuiging van wat verkeerd is.

Die res van die teks praat van ’n vreesbevangenheid wanneer die oorweldigende waarheid van hul gebrokenheid by hulle tuiskom. Dit is inderdaad  sonde wat skeiding bring tussen God en mens.

Die Here se oor is nie doof nie en sy arm nie te kort om te help nie, sê die teks, maar dit is ons ongeregtigheid wat skeiding bring.

Tog, te midde van dit alles, is Hy geduldig, genadig en liefdevol en meer as bereid om te vergewe as ons in egte berou na Hom toe kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Here Jesus in U Heilige naam kom vra ons vir vergiffenis vir al ons sonde…….dankie Here vir U genade onbeskryflik groot…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.