ToekomsVenster: As alles verkeerd gaan

verkrummel-onder-jou-voete

Foto: Jachan DeVol/Unsplash.com

Ai, kan die lewe nie maar minder gekompliseerd wees nie? Dit lyk en voel asof die goeie met soveel weerstand begroet word dat dit amper nie die moeite werd is nie.

Welkom by die stryd van die geloof. Jesus het dit intens beleef. Net na sy doop word Hy, die Seun van God self, die woestyn ingelei en op ongenaakbare wyse aan versoeking en leuens blootgestel.

Die Bybel leer ons immers dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen die owerhede en magte wat in die buitenste ruim opereer. Derhalwe moet ons die volle wapenrusting van God aantrek en staande bly in die dag van onheil.

Jesus se woorde aan Petrus val my op.

Lukas 22:31-32 – “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie”.

Die Bybel leer ons dat die Heilige Gees vir ons by God intree met onuitspreeklike versugtinge. Ons kan rus in die wete dat die bose oorwin is, dat hy ontklee is van alle mag (dis net ʼn gebrul), dat hy die vader van alle leuens en onreg is en dat ons hom in die krag van God se Gees kan en moet weerstaan. Die Woord sê “weerstaan die duiwel en hy SAL van julle wegvlug”.

Wanneer daar niks betekenisvol in jou lewe gebeur nie karring die bose nie met jou nie. Daar is niks om te ontwrig nie. Alles is rustig en stil.

Wanneer jy egter in die geloof opstaan en as gestuurde begin om by te dra tot die koms van God se Koninkryk gons dit in sy kwartiere. Daar word dringend “vergadering gehou” oor strategie om jou te ontsenu en te ontmoedig. Hy weet waar die stukkende, gevoelige en sensitiewe plekkies in jou mondering is.

Die Bybel sê ook “moenie die duiwel vatkans gee nie”.

Loof die Here dat Hy ook weet van die sensitiewe plekkies in jou lewe. Hy gee sy engele opdrag aangaande jou. (Gaan lees gerus maar in Ps.91:11-12) Jy kan kragtig voortgaan met wat Hy jou opdra om te doen.

Wees getroos, as die vyand op jou toesak is jy waarskynlik besig met iets belangrik. Ons bid tog, laat U Koninkryk (ook deur my) kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Dankie God oorlog wapentoerusing en soms vergeet ons om te gebruik wat U vir ons gratis gegee het….help ons om te onthou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.