ToekomsVenster: As die golwe jou tref

(Foto: Silas Baisch/Unsplash)

U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. – Jona 2:3

Wat is nou lekkerder as ʼn seevakansie en ons het die geleentheid om ʼn paar dae by die groot waters te ontspan. Ek wil gedurende hierdie week gesels oor ʼn aantal metafore vir die geestelike lewe, goed waarvan ʼn mens bewus word wanneer jy by die see kuier.

Vandag begin ons by die opmerklike golwe. Sedert die skepping rol die golwe aan, die een na die ander, elkeen uniek en skuimend. Sommige is sommer sulke klein golfies waar net-net jou voete natmaak. Ander styg bo jou uit, bedreig jou amper.

Jy het een van drie keuses wanneer die hoë deinings op jou aankom. Jy kan bly staan net om van jou voete afgeslaan te word. Jy kan in die golf induik en die ritseling van die water deur jou lyf voel en dan tevrede kyk hoe die golf op die strand uitspoel. Jy kan ook besluit om die golf te “ry” en meegesleur te word – pure lekkerkry. Jy mag met ʼn stukkende knie of seer rug van jou voete af opstaan maar dit was die moeite werd. Onnodig om te sê jy keer onmiddellik terug en soek na die volgende golf wat jou bykans gewigloos kan dra.

Die lewe is soos golwe. Om net te bly staan dat elke golf op jou aanrol en jou van jou voete slaan is ietwat dom, bykans masochisties. Waarom sou jy dit aan jouself wil doen? Toegegee, die lewe kan soms ongenaakbaar en onvriendelik wees maar ʼn mens het steeds ʼn keuse van hoe jy wil optree. Om die houe te vat en te bly vat is nie ʼn wyse besluit nie.

Die tweede moontlikheid is dat jy die golf binne duik amper asof jy wil ontdek wat daarbinne aan die gang is. Jy sal meermale vind dat die massa water eintlik redelik skadeloos was en dat benewens ʼn kort gevoel van ongemak daar nie te veel skade berokken is nie. Die derde moontlikheid is om die golf as ʼn uitnodiging te beleef en te verwelkom. “Kom ek kyk waar die golf my gaan uitspoel,” sê jy vir jouself. “Ek gaan die rit geniet, die geleentheid wat dit bied omarm en die beste maak van die geleentheid.”

Jona se verhaal is aan ons bekend. Jona kon nie van die Here en die roeping wat hy op Jona se lewe geplaas het wegvlug nie. Uiteindelik bevind hy homself in die diepte van die see, in die maag van ʼn vis. Daar leer Jona bid, roep hy tot God en bekeer hy homself van sy halsstarrige ongehoorsaamheid. Dan besluit hy om die golf te ry, God se opdrag uit te voer. Die gevolg dat ʼn hele stad tot inkeer kom, selfs die diere word gespaar van die oordeel war God daaroor uitgespreek het.

Wat maak jy met die golwe in jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.