ToekomsVenster: As ek net geweet het

keuses-paadjie-gras

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. – 1 Kor. 1:30

Keuses, keuses, keuses!

Die lewe is meermale ʼn keuse tussen een of meer alternatiewe.

“Watter pad moet ek vat? Waar moet ek loop? Hoe weet ek wat die Here wil hê ek moet doen?As ek net sy stem kon hoor.”

Die feit dat jy nie sommer koers inslaan en hoop vir die beste nie, is prysenswaardig. Die Here wil deel wees van ons besluitneming. Hy sê immers “roep My aan” (Ps. 50:15, Jer. 33:3).

Die bekende tekste in Matteus het betrekking: soek, klop, vra (Matt. 7).

Jakobus nooi ons uit om wysheid te vra (Jak. 1:5).
Die Spreuke-digter roep na wysheid (Spr. 2:2).
Die Prediker het homself ingestel om wysheid te bekom (Pred. 1:16).

God is wysheid. Wie gee Hom raad? Vir wie raadpleeg Hy? (Rom. 11:34).

Jesus is die verpersoonliking van wysheid op aarde.

Dr. Chris Harris het ʼn uitnemende stiltetydhandleiding geskryf oor keuses. Hy wys daarop dat ons keuses medebepaal word deur die goed wat ons van kleins af as waarheid aanvaar het. Volwasse mense dink vir hulself. Hulle stel self ondersoek in en neem ingeligte besluite.

Die Here wil jou in jou besluitneming lei. Sommige sake kan aan die hand van algemene riglyne uit die Woord van God beslis word.

Is dit in ooreenstemming met die Here se Woord? Verheerlik dit die Here en sou Jesus daarmee kon besig wees? Doen dit ander mense kwaad aan en is dit ʼn uitdrukking van diensbaarheid? Is dit selfsug of naasteliefde?

Ander besluite word geneem deur selfkennis. Wie is ek? Watter gawes het die Here aan my toevertrou? Waar beleef mense my as relevant en doeltreffend? Waaroor is ek passievol?

Hoofsaak is dat ʼn mens nie halsoorkop betrokke raak by ʼn saak nie, maar besluite goed en verantwoordbaar deurdink.

Praat met God en praat met medereisigers. Neem tyd as dit moontlik is om die voor- en nadele te ontleed. Die Here het jou ʼn verstand gegee.

Uiteindelik, laat die vrede van God jou lei in jou besluitneming (Fil. 4:7).

Gebed:

Ek kies Jesus. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bees ·

As ek net die here se stem kan hoor?Wel hy het vir moses mense as banoffers beveel in Lev 27 vers 29.Nou weet jy en hoef nie meer net die peins as ek maar geweet het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.