ToekomsVenster: As familie teleurstel

familie-gesin-broers-susters-hardloop-kinders

Foto: Priscilla Du Preez/Unsplash.com

“Dawid se gebed vir verlossing. ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. Daar is talle wat van my sê: ‘Van God kom daar vir hom geen hulp nie!’ Sela” – Psalm 3:1-3

Dawid was meermale in die noute. Ook hier beleef hy vyandskap en soek hy beskerming by die Here. Die verlossing bly ook skynbaar uitstaande; daarom dat sy vyande spottend besluit dat die Here ook met Dawid opgegee het. Dawid volhard in geloofsvertroue. Hy weet daar is geen adres behalwe die van sy Vader nie.

Dit moes hartverskeurend gewees het toe Dawid se eie seun, Absalom, teen sy pa gedraai het en besluit het om die koningskap van hom weg te neem. Hy skroom nie om mense teen sy pa op te steek nie en verlei hulle om dislojaal aan hul koning te wees. (Lees 2 Samuel 12 en 18 vir agtergrond.)

Instede daarvan om wat hom toekom met brute krag toe te eien, kies hy ’n pad van nederige afhanklikheid. Die Here sal reg en geregtigheid laat geskied; Hy staan immers aan die kant van waarheid.

Wil jy ook reg in jou eie hande neem wanneer dinge nie gaan soos jy dit vir jouself voorgestel het nie? Verwens jy jou vyande, selfs as hulle verwant is aan jou? Soek jy eerder beregtiging by die Vader as om self wraak te neem? Die Skrif sê moenie wraak neem nie (Romeine 12:19).

Gebed

Vader, dis U eie mense wat U verneder en uiteindelik vermoor het.
Ek is ook deel van daardie groep.
Dankie dat U my nog ’n kans gegee het.
Somtyds stel my eie mense my ook erg teleur.
Help my om dan nie te vergeet wat U moes verduur nie.
Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.