ToekomsVenster: As julle my liefhet sal julle my opdragte uitvoer

(Foto: Stephan Hauman)

“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.” – Johannes 15:14 (AFR53)

Ek het Donderdag verwys na die kongres wat ek onlangs bygewoon het, waar sowat ʼn duisend afgevaardigdes van geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika oor ons land en sy toekoms besin het. Dat die tydsgewrig waarin ons leef dringende aandag vra, is so.

Die uitdagings wat ons as ʼn land in die oë staar is duiselingwekkend en somtyds baie kompleks. Daar is nie ʼn towerstaffie wat geswaai kan word en alles kan regmaak nie. Die lewe, ook Suid-Afrika, is ongelukkig net nie so eenvoudig nie.

Dringende en indringende aandag moet aan ons problematiek gegee word.

Die tema van die kongres was: “Ons land, ons verantwoordelikheid”. Niemand kom ons “red” nie.

Die politieke sfeer is verdag en onbetroubaar.

Politici het Suid-Afrika skandelik gefaal.

Ons sal self moet toetree.

Navorsing wil dit hê dat die skrif aan die muur is.

Drastiese verandering is nodig in die volgende dekade, of dit mag te laat word vir ons.

Die vraag is, hoe ons as gelowiges en medegelowiges hierdie uitdagings benader?

Sommige van ons mag redeneer dit het niks met ons te doen nie.

Ons leef in ons eie veilige kokon en beveilig onsself op alle terreine teen enigiets wat ons veiligheid kan bedreig.

Die vraag is of dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat ons die sout van die aarde is.

Is dit wat Hy wou gehad het toe Hy ons geroep het om as lig in die duisternis op te tree en toe Hy ons geleer het om te bid: “Laat U Koninkryk kom en U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”?

Die vraag is hoe ons oordeel oor die laaste groot opdrag: “Gaan dan heen en maak dissipels van alle nasies”.

Hoe sal ons beoordeel word as jy dink aan die teks: “Ek was honger, naak, in gevaar, in die gevangenis en julle het, of julle het nie…”?

Johannes 15 dwing ons om ons argumente, oor hoekom ons nie betrokke wil raak nie, te heroorweeg.

As ons vriende van God en Christus Jesus is en ons wil dit wees, lê gehoorsaamheid op ons weg.

Duideliker as dit kan ʼn mens dit nie hoor nie.

As julle my liefhet sal julle my opdragte uitvoer.

Het ander se swaarkry, armoede, honger, gesukkel, trane iets met ons te doen?

Die antwoord is voor die hand liggend.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.