ToekomsVenster: As jy na Hom vra

(Foto: Ben White/Unsplash)

En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met ‘n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind. – 1 Kronieke 28:9

Hierdie bekende verse se konteks is die inwyding van die tempel in Jerusalem. Die gedagte dat God gedagtes en harte ken is vandag ter sake. Ook die belofte dat God Hom laat vind deur mense wat na Hom vra.

Die lewe is uitdagend en verrinneweer ons dikwels emosioneel. Ons kan daarby nie verby kom nie en om dit te ontken beteken dat jy of buitengewoon gelukkig en geseënd is, of verkies om jou blind te wees vir hierdie realiteit.

Die eerste beginsel op ʼn pad na groei waar jy uitdagings in die oë kan kyk en daarmee kan handel, is om eerlik te wees, eerlik met jouself en eerlik met God.

Ons is huiwerig om ons eie emosionele broosheid te erken. Ons probeer dit interpreteer en hou nie van wat ons bevind nie. Uiteraard staan die bose gereed om ons daarvan te oortuig dat ons swak gelowiges is wat God intens teleurstel en nie langer op sy liefde kan reken nie. Hy oortuig ons daarvan dat gelowiges wat sukkel ver van God gedwaal het, selfs die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het en maar kan opgee met die geloof. Hy bedrieg ons en vertel ons dat God onbetroubaar is en nie regtig omgee nie. Ons praat ook nie met ander mense oor ons broosheid nie want ons wil nie hê hulle moet minder van ons dink nie. Ons loop gemasker deur die lewe, kry swaar, alleen swaar en ontbeer die vreugde, vrede en vervulling wat God vir ons bedoel het.

Die waarheid is egter dat die Here verstaan, dat Hy waardering het daarvoor as ons eerlik is met Hom, en dat Hy ons nooit ooit teregwys of wegwys as ons ons brose hart vir Hom openbaar nie. So asof Hy nie in elk geval alles weet nie.

Hoor hoe die Psalmdigter oor sy vrymoedigheid voor God getuig:

Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red. In die aand, in die môre en in die middag, heeldag kla en sug ek, en Hy hoor my roep. – Ps. 55:17-18

Ek lees nie dat die Here sê: “Ag is dit alweer jy nie. Hiervoor het Ek nie tyd nie. Kom terug as jy beter voel”. Inteendeel!

Klaagliedere 2:18 het hierdie uitnodiging:

Roep tot die Here, Sion, laat jou trane in strome vloei, dag en nag, moet jou nie rus gun nie…

Die Halleluja-liedboek sê:

Kom tot die Heer met al u verdriet

Kom nou na Hom wat redding jou bied

Hy het sy bloed vir sondaars vergiet

Hoor na sy roepstem kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Amen….dankie Here die Kenner van my menswees….. my hart…bewaarder van my siel….my brose liggaam….U liefde en genade word oor my uit gegiet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.