ToekomsVenster: As jy net weer terug sal kom

Argieffoto

Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. – Johannes 13:34

Dit is die klein dingetjies wat ʼn mens so uitermatig kan irriteer. Dit is die klein dingetjies waaroor ons vassit, verskil en selfs baklei. Die wyse waarop jy kou, jou koerant omblaai. Jou klere wat al weer rondlê en die nat handdoek op die vloer. Die koeldrankblikkie wat in die motor agtergebly het, of die gesnork wanneer jy probeer slaap.

Dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel sê hulle, maar is dit regtig só belangrik.

Daarmee wil ek nie aanvoer dat ʼn mens praat oor hierdie jakkalsies nie en waar moontlik veranderinge aanbring. Waarom sou ʼn mens ander willens en wetens wou irriteer? Dit is mos nie liefde nie.

Aan die ander kant, as alles in die lewe jou irriteer en kwaad maak moet jy dalk ʼn terapeut sien. Dit gaan oor ʼn gesonde balans. Wat kan verander en wat kan maar so bly?

Ek het iewers die uitspraak gehoor, dit is nie die dood van Jaïrus nie. Nou ja, wat dit beteken weet ek nie maar ek gebruik dit gereeld wanneer ons met onbelangriker dinge gekonfronteer word.

Die lewe is te kort om oor alles te kla, altyd met ʼn klippie in jou skoen rond te loop, frons op die gesig en mondhoeke teen die wange opgetrek. Nee wat, daar is belangriker dinge in die lewe.

Daar is ʼn gedig wat my hart raak. Die digter moes afskeid neem van iemand wat na aan haar was. In retrospeksie vertel sy waarmee sy sal kan vrede maak as die persoon tog net sal terugkom.

Luister saam met my:

Jy mag maar deur Hester Heese

Jy mag maar jou koffie slurp

of in die piering gooi

Jy mag maar met vuil voete

uit die komposhoop

oor ons wit mat loop

 

Jy mag jou naels byt

vals sing

swak groente huis toe bring

die badkamer omkrap

die nat vloer opdroog met jou waslap

 

Skakel maar die radio aan

om ses in more

en luister hoe hulle brabbel

oor veevrektes

aartappelroes

inseminasie

 

Jy mag maar snags hard snork

oor koue voete brom

as jy net terug kan kom

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.