ToekomsVenster: As jy verdwaal het


stryd-met-sonde

Foto: Edchoy.com

Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie.  Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.  Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek… So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.  Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees.  Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.  Ek, ellendige mens!  Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?  Aan God die dank!  Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. –  Lees Romeine 7: 18-25

Paulus maak sy hart vir ons oop in Rom 7.  Hy ontbloot sy persoonlike worsteling met sonde.   Sy emosionele belewing met die wet nooi ons om ons eie stryd te bedink.  Hoe kan dit wees dat ek die goeie wil doen, maar elke keer kom die kwade na vore?  Jy ken self daardie stryd.  Jy ken die ongemak (dissonansie)  wanneer jy teenstrydig met jou waardes optree.  Dis asof jy dan ‘n streep trek deur jou beste wil.  Dit kan ‘n mens nogal ontmoedig.  Paulus se uitroep: “Ek, ellendige mens!”, verwoord ons almal se frustrasie hiermee.

Dit help ons nie om die oplossing hiervoor in onsself te soek nie.  Ons stuit telkens weer teen nuwe mislukkings.  Paulus se stryd lyk net soos ons worstelings.  Hy wys vir ons die pad na vrede met God – ook die pad na innelike genesing.  Hy help ons om die verlossing van Jesus Christus, ons Here te ontvang.  Dit is net Hy wat ons werklik hiervan kan vrymaak.  Die begrip hiervan lei tot ware innerlike vrede.  Wie dit begryp en sy eie maak beleef die ware bedoeling van die goeie nuus van die Evangelie.  Die pad na vryheid van herhalende dissonansie lê nie in onsself nie.  Dit kom van Christus alleen.  As ons telkens met ons mislukkings na Hom toe gaan, trek Hy ‘n streep daardeur.  Hy skeur die skuldbewys van sonde telkens op as ons dit na Hom toe bring (Kolossense 2:14; 1 Johannes 1: 8-9).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.