ToekomsVenster: As vandag die laaste dag

Foto: Aziz Acharki/Unsplash.com

Die lewe is onvoorspelbaar en vol verrassings. Wat vandag sal bring is onbekend en al wat ons werklik kan beleef is die oomblik. Daar word gepraat van “the sacrament of the present moment” (Jean-Pierre de Caussade) om die belangrikheid van die hier en nou, teenswoordige te onderstreep.

Die oomblik gaan ongelukkig by die meeste van ons verby omdat ons die oomblik om wens, verwens en reg wens. Die oomblik is teleurstellend in terme van jou persoonlike verwagting en jy verplaas jou aandag iewers in die toekoms na waar dit meer ideaal sal wees. Die toekoms egter is ʼn hersenskim wat nie bestaan nie, dit is niks meer as ʼn teoretiese konstruk nie, dagdromery, ontvlugting, onwerklik en vlietend. Wat op hande is, is wat eintlik saak maak maar dit beteken nie dat ʼn mens nie beplan nie. Dit beteken net dat ʼn mens die enigste ware gawe wat jy het werklik inneem, beleef, geniet, waardeer en omhels. Dit vra vir ʼn ingesteldheid van erns met die lewe as kortstondige gawe van God. Die lewe is nie in ons beheer nie, elke asemteug is per die guns van God. So ook elke tree, sinvolle gedagte, handeling en woord. Ons het niks en is niks sonder en buite Christus nie. Hy is ons lewe. Hy is die inhoud, die sin, die betekenis, die rede, die oorsaak en Gawe.

Ek probeer baie bewustelik iets van die oomblik te beleef. Terwyl ek hierdie gedagtes tik word ek bewus van my een vinger vaardigheid op die sleutelbord. Ek is nogal vernuftig gegewe my beperkte vaardigheid. Ek verwonder my aan die gedagtes wat amper spontaan op die bladsy land. Ek sien die swart woorde op die wit papier en herinner myself aan ʼn praatjie wat wys op die spasies tussen die letters en woorde, dat ʼn mens dit ook moet interpreteer. Ek is nie op outomaties soos ons gewoonlik funksioneer nie maar ingetrek in die hier en nou.

Eckhart Tolle (The power of now) is ʼn begaafde skrywer, filosoof, denker en spreker. Dit is interessant om te hoor hoe hy praat. Stadig, afgemete, denkend, beredeneerd, netjies en kalm. Ek het nodig om iets daarvan in my lewe te integreer. Die rus van God. Die teenwoordigheid van sy Gees. Die oomblik, genotvol, betekenisvol, sinvol en te gou verby.

Kom ons help mekaar om iets van die oomblik, vandag en elke dag, te beleef.

Ek waardeer jou en hierdie oomblik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zusaan de klerk ·

Waarom Here sterf jong kinders terwyl mense om genade dood smeek nog leef?

Arak ·

Ek sou regtig baie versigtig wees om Echart Tolle, sy teologie en insigte aan te haal. Wat van Efes 5:16 – 17 en Pred 3?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.