ToekomsVenster: Bang vir die waarheid?

Juanita-Badenhorst-01-sonsondergang-pta-2014

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: Johannes 8:32:

en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.

In oorlogstye, so word dikwels vertel, is die waarheid die heel eerste slagoffer. Dis ongelukkig ook waar ná die konflik, as vrede gemaak moet word. In ons eie land, met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika, was daar baie wat gesê het: “Maak die boeke toe! Dis nie nou tyd om ou koeie uit die sloot te grawe nie!” Maar dis verkeerd. Die eerste voorvereiste vir versoening is dat ons mekaar in die oë sal kyk en die waarheid met mekaar sal praat.

As daar een saak is waarvoor ons vandag moet bid, is dit dat die Here ons die moed sal gee om na die waarheid te vra, dat Hy “Sy lig en Sy waarheid sal stuur”, wat ons op ons pad kan begelei (Ps. 43:3). Om na die waarheid te vra, om mekaar daarmee te vertrou, is ’n risiko. Mense wil nie altyd die waarheid hoor nie. Dit kan die versoeningsproses vertraag – of selfs laat vassteek. Maar ons het geen ander keuse nie. Versoening vra nie vir geheueverlies nie!

Kom ons vra dat die Here ons die insig en die geduld en die liefde sal gee om werklik tyd te maak vir mekaar; om na mekaar te luister – al is die dinge wat ons hoor soms skokkend en swaar. Kom ons bid dat, soos Jesus beloof het, die waarheid ons sal vrymaak.

Gebed:

Vader, dankie dat U U Seun, Jesus Christus, na ons gestuur het as die Weg, die Waarheid en die Lewe. Dankie vir U Heilige Gees, die Gees van Waarheid wat ons in alle waarheid moet lei. Vergewe my al die leuens en halwe waarhede in my lewe. Maak my vry!

Leefwyse:

Gaan praat met iemand wat naby aan jou is. Nooi hom / haar uit om sy / haar waarheid, die pyn in sy / haar lewe, met jou te deel. Luister sonder om te veroordeel.

Om oor na te dink:

Sien ek kans om die boek van my lewe oop te maak; om die pyn en hartseer van die verlede te konfronteer?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.