ToekomsVenster: Bedaar en erken dat Ek God is


beleef-jou-wereld

Argieffoto.

God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming;  Hy was nog altyd bereid om te help in nood. – Lees Psalm 46:2

Die onstuimige wêreld waarin ons woon kan somtyds baie bedreigend wees.  Onsekerheid is deel van ons daaglikse ervaring.  Politieke, ekonomiese en sosiaal maatskaplike skommelinge laat ʼn mens soms bang en benoud.

Dit is veral die vraag oor ons kinders se toekoms in so ʼn stukkende land wat ʼn mens somtyds onkant vang.  Nie dat enige ander wêrelddeel noodwendig beter is as hier ter plaatse nie.  Dis oral deurmekaar.

Vlug kan ons nie, ook nie wegkruip nie.  Volstruispolitiek asof hierdie goed nie bestaan nie, of ons nie raak nie, is niks minder as oëverblindery nie.

Psalm 55:7,8 – “Ek het gedink:  ag, as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ‘n woonplek soek;  ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly”.

Paniek bring ʼn mens nêrens nie en op ʼn afstand staan en kritiseer is ewe onbenullig.

Veel eerder die realiteit in die oë kyk, verdiskonteer dat jy te ene male hier en nou leef en dat God alles daarmee te doen het.  Ook die waarheid dat Hy jou nie bokant jou vermoë om te hanteer sal laat beproef nie, in jou hart vasmaak.

1 Korintiërs 10:13 – “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou.  Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie;  as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan”.

Eerder diep asemhaal, leef in vertroue en geloof en doen wat jou hand vind om te doen.

God is nie afwesig nie, inteendeel, Hy stuur ons om in lyn met ons gawes en talente en binne vermoë ʼn verskil te maak.

Die berge en riviere en see is beelde van die onstuimigheid rondom die digter.  Tog laat hy hom nie van koers af dwing nie.

God is in beheer.  Hy sorg en versorg.  Omdat God in die stad is sal dit nie wankel nie.

Vers 11 vat dit mooi saam.  “Bedaar en erken dat Ek God is”.

Mag die onstuimigheid in jou binneste oor watter saak ook al tot bedaring gebring word deur die Gees van kalmte en vertroue wat binne in jou woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mamsie ·

Dankie, ek het dit so nodig
Na my hele lewe hier een groot gemors is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.