ToekomsVenster: Bediening van versoening

(Argieffoto)

Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. – 2 Korintiërs 5:18 (NLV)

Ek gesels met Paul van Schalkwyk en Thando Ngcobo. Paul, oom Polla soos hy bekend staan, is ʼn 78-jarige wit man wat op ʼn plaas digby Delmas woon. Thando is ʼn tandarts van beroep, jonk en ʼn swart vrou.

Oom Paul besoek die betrokke praktyk reeds vir jare en is vertroud met sy dokter. Wat oom Paul nie weet nie is dat die praktyk intussen verkoop is en dat die jeugdige Thando die spreekkamer oorgeneem het.

Oom Polla het gedurende die apartheidsjare groot geword en was in alle opsigte ʼn kind van sy tyd. Afstand tussen kultuurgroepe is gehandhaaf en die rasionaal agter apartheid is vurig omarm.

Met verdrag het oom Paul se gedagtes begin verander. Demokratisering het by hom ʼn ander verstaan van Suid-Afrikaanse werklikhede gebring en hy spreek openlike respek uit vir oudpres. Nelson Mandela.

Thando was in ʼn multi-kulturele skool en is ʼn millennial, ʼn sogenaamde vrygeborene. Sy is dus na 1994 gebore wat haar nie baie ouer as 27 maak nie.

Van die vooroordele en swaarkry wat met apartheid gepaard gegaan het, het sy gehoor, maar min daarvan aan haar eie lyf gevoel.

Haar liefde vir ʼn mooi glimlag het haar genoop om ʼn tandarts te word.

Wanneer oom Paul by die tandarts aankom vir sy afspraak verneem hy dat die praktyk nou aan ʼn vroulike tandarts behoort. Oom Paul het daarmee geen probleem nie en sy behandeling begin.

Oom Paul beleef dit as ʼn verdere stuk vorming in sy verstaan van Suid-Afrikaanse realiteite en wonder hoe sy klasmaats van die 60’s op sy ervaring sal reageer.

Hy vind Thando se hantering van hom professioneel en respekvol teenoor hom as ouer persoon.

As hy van die stoel af opstaan vra hy of iemand ʼn foto van hom en sy nuwe tandarts sal neem waartoe sy toestem.

Hy skrywe ʼn brief aan sy klasmaats wat gereeld ontmoet om sy ervaring te deel. Die brief land in die koerant en word met berig opgevolg.

Beide Thando en oom Paul het verander. Haar verstaan van witheid en sy verstaan van swart mense. Dit is ʼn nederige maar lewensnoodsaaklike boublok in die toekoms van hierdie land.

As ons op dieselfde wyse begin om die persepsies van mekaar te bevraagteken en die Gees van God nooi om ons te vernuwe, kan Suid-Afrika genees. Dit is deel van die roeping wat op elke gelowige se lewe rus, van die restourasie van die afgetakelde mure en poorte rondom ons land, soos met Nehemia van ouds.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.