ToekomsVenster: Beelddraers van God

(Foto: Tyler Nix/Unsplash)

Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef. – Rom. 6:4

My motor het aandag nodig en terwyl ek hierdie dagstukkie voorberei geniet ek ʼn cappuccino met die komplimente van die diensverskaffer. ʼn Lekker romerig een met baie skuim bo op.

Soos die gebruik is, dryf daar ń duifie, hartjie, hasie of watter ander vormpie ook al bo-op die skuimpie rond. Ek het nog nooit vreeslik daaraan gedink nie totdat ek vandag die kenteken van die motor wat ek bestuur op die koffie sien ronddryf.

Kenteken, identifikasie, dit is wie ek is, dit is waar ek nou is, dit is wat ek ry, dit is die motorfamilie aan wie ek behoort, hier is my kring en hierdie definieer my op ʼn manier. Dit is van die boodskappies wat die drywende simboliek dra, en dit het my laat dink.

Ek hou van simbole en metafore en beeldspraak,  en die Bybel is daarvan vol. Ons dra eweneens ’n teken want ons is beelddraers van God.

Wie na ons kyk moet dié kenteken raaksien en dit beleef. Dit dra ook ʼn uitnodiging wat vra: wil jy ook hieraan behoort?

Dit is ’n oop gemeenskap wat nie gedefinieer word deur wat jy ry, waar jy bly en wat jy kry nie maar in Wie jy glo, waar jou hoop vandaan kom, wat jou verwagting van die lewe is en waarheen jy op pad is.

Dit dra die teken van die Koninkryk.

Een of ander groot vegter het gesê, “in hierdie teken sal ons oorwin”. Hy het ń ander oorlog in gedagte gehad en in die naam van daardie teken het baie bloed gevloei.

Dis ń verkeerde verstaan van die teken.

Die teken op die harte van God se kinders spel shalom, vrede, genade, barmhartigheid, liefde, onvoorwaardelike aanvaarding, sagtheid, deernis en omgee om maar net ʼn paar te noem.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.