ToekomsVenster: Begin by jouself

spieelbeeld_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jer. 6:26 – My volk, trek rouklere aan, rol in die as, treur soos oor die dood van ‘n enigste kind, huil bittere trane, want die verwoester is op ons.

Ons is so geneig om die verkeerde in ons samelewing of sosiale kring by ander te soek en te plaas sonder om onsself in die oë te kyk.  Somtyds moet ʼn mens jouself by wyse van spreke tot medemens verklaar en met jouself in gesprek tree.

Praat met jouself oor jouself. Wees eerlik en vra die Here om jou in daardie gesprek te lei.

Het jy saam met my opgelet hoe hierdie teks begin: “My volk”.  Dit is dieselfde bekende woorde van 2 Kron. 7:13 nie waar nie wat ook begin met “As my volk”.  Trouens, die grootste gedeelte by verre in die ou en nuwe Testament is aan die adres van die kerk, die verbondsvolk gerig.

Toegegee somtyds roep die Here deur sy Gees ander volke, konings en nasies tot verantwoording veral wanneer sy volk as gevolg van hul optrede aan die ontvangkant staan, maar my verre is die Here in gesprek met sy kinders, ek en jy en ons, sy Liggaam op aarde.

Ons wonder dikwels oor die toestand in die wêreld.  Ja, daar is ʼn verskeidenheid van faktore wat in ag geneem moet word wanneer ons probeer sin maak van ons konteks. Die wêreld is stukkend en gebroke en hartseer van allerlei aard is aan die orde van die dag.  Dit wissel van geweld na bedrog en korrupsie en kriminaliteit en so kan ʼn mens aangaan. Verwaarlosing en selfsug en eiebelang en egoïsme.

Natuurlik is dit nie al wat ʼn mens raaksien nie. Daar is merkwaardige stories van God se Koninkryk wat gestadig, maar beslis deurbreek in hierdie wêreld. Dit neem egter nie die feit weg dat daar te veel onreg in ons wêreld is nie.

Die vraag is wie moet pa staan? Inderdaad is dit ʼn gebroke bestel en is die Koninkryk nog nie in sy volle gestalte onder en in ons nie. As ons egter sout en lig moet wees en klaarblyklik nie daarin slaag om die verderf en smaakloosheid tee te werk nie is ʼn gesprek met onsself individueel en korporatief nie buite orde nie. Wat sien jy raak in die lewe en hart van die man en vrou in die spieël?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.