ToekomsVenster: ‘Begin vandag nog om my hart te vernuwe’

(Foto: Ben White/Unsplash.)

“… en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” − II Kronieke 7:14 (AFR53)

Ek gesels gereeld met meningvormers in radioprogramme. My fokus is gebeure en verwikkelinge in Suid-Afrika, hoe Christene daarvan kennis kan neem en pro-aktief kan deelneem aan die verandering op eie bodem.

Die Here weet, ons het verandering broodnodig.

In gesprekke word die meervlakkigheid van ons konteks onderstreep. Dit is nie ʼn enkele rolspeler wat totale verantwoordelikheid moet neem vir die toedrag van sake wat tans heers nie, al dink ons so.

Ons redeneer byvoorbeeld as die regering net wil bykom of Eskom net weer voldoen aan sy mandaat. Feit van die saak is dat elke samelewingsverband skouer aan die wiel sal moet sit en verantwoordelikheid moet neem dat verandering in eie kring plaasvind.

Suid-Afrika het ʼn ernstige moraliteitsprobleem. Die misdaadsyfers wat onlangs bekend gemaak is, demonstreer die feit grafies. Meer as 7 000 mense is in ʼn skamele periode van drie maande in ons land vermoor; daaronder tel vroue en kinders.

Watter soort mense dink nie twee keer daaraan om iemand anders se lewe te neem nie?

Ons wys vingers, maar misdaad en geweld kom in alle sektore van die samelewing voor, ryk en arm, vernaam of gewoon.

So veel van die geweld word binne die vier mure van ons eie huishoudings bedryf. Polisie kan tog nie ontplooi word om ons gedrag teenoor mekaar te kontroleer nie, en tog.

Ons huwelike en doopbeloftes lê in baie huise aan skerwe.

Wat gaan ons doen?

Niemand kan namens iemand anders die belangrike besluite wat gemaak moet word maak nie. Die Gees werk in ons almal se harte, maar ons het die ontstellende vermoë om die stem van die Gees stil te maak en uit te doof.

“Nie nou nie” is ʼn gunstelingverskoning, “ek wil net eers” ʼn ander. Intussen gaan die lewe by ons verby.

Net een minuut van jou tyd kan ʼn noodsaaklike proses van verandering in jou lewe aan die gang sit.

Bid saam met my:

“Here, ek is nie waar ek moet wees nie. My toewyding aan u het skade gely. Ek het my beloftes verbreek en ʼn eie koers ingeslaan. Vergewe my. Begin vandag nog om my hart en lewe te vernuwe deur U Gees, en maak my daartoe bereid.

Dit bid ek in Jesus se Naam.

Amen”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.