My goeie vriend en klasmaat ds. Izak Liebenberg vertel my onlangs van sy broer wat ʼn boer in distress is in Namibië. Die lang droogte laat baie boere tou opgooi en sommige raak selfs meer desperaat. Lewende hawe is op ʼn minimum en voer moet ingevoer word. Vooruitsigte lyk nie goed nie en boere is spreekwoordelik teen die toue.
Hy vertel hoe hy sy broer met ʼn metafoor bemoedig het: As ʼn mens in stormwater is en nie kan uitkom nie is die beste opsie om te dryf. Om te kan dryf moet jy ontspan en ophou spartel. Die oomblik as jy jouself begin inspan, sink jy. Jy het geen ander opsie as om jouself op ʼn manier aan die water en sy vermoë om jou te dra oor te gee nie. Op die aangewese tyd vind jy iets om aan vas te hou of spoel die water jou op droë grond uit.
Hierdie beeld herinner aan die Woord van die Here op so baie plekke.
- Jesaja 30:15 – So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.
- Filippense 4:6 – Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
- Psalms 50:15 – Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
- Psalms 23:4 – Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.
Ek kan my die trauma wat veral ons boerderygemeenskap beleef nie eers voorstel nie. My bedoeling is ook nie om ʼn troossalfie oor iemand se wonde te smeer nie. Die Heilige Gees is ons Trooster en Hy doen dit met onderskeiding.
My hart gaan vandag uit na elkeen wat in troebel water verkeer. Daar is waarheid in ds. Izak se woorde. As jy spartel gaan jy onder. As jy tot rus kom bly jy verrassend behoue. Mag jy vandag sy teenwoordigheid beleef.
Wees stil en weet Ek is die Heer
Ek spreek en wind en golwe bedaar
Ek sal ook jou getroue bewaar.
Laat rus by my jou kommer en vrees
Ek sal vir jou ʼn toevlug wees – Liedboek 519
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Dankie Here. Amen !
Amen
Dankie Here vir U oneindige liefde
Amen