ToekomsVenster: Beginsels vir ’n gelukkige lewe; dis oneindig

elektrisiteit-krag-van-bo

Foto: Sebastian Pociecha/Unsplash.com

Ons huishouding se elektrisiteit werk met ʼn prosedure waar jy vooruit daarvoor betaal. Jy koop eenhede wat op ʼn meter aangedui word. Alles wat elektrisiteit gebruik maak daarop ʼn appèl. Wanneer die krag ʼn sekere reserwepunt bereik begin die eenheid ʼn deurdringende “peep” geluid maak. Dit is so knaend dat jy alles los en dadelik die krag aanvul.

As gevolg van die winter gebruik ʼn huishouding uiteraard meer elektrisiteit. So sit ek en my engel en wonder wat van die krag geword het omdat dit voel asof ons net gister in die noodsaaklikheid moes belê. Nou is ons weer by die skreeugeluid en probeer somme maak. Wat gebruik soveel elektrisiteit en hoe kan ons bespaar daarop?

Terwyl ons saambid sê ek vir die Here dankie dat die Krag van die hemel nie gerantsoeneer na ons toe kom nie. Ons hoef dit nie in eenhede aan te koop nie en ons hoef ook nie bekommerd te wees dat die toevoer ons iewers in die steek gaan laat nie.

Die krag van God se Gees kom in Goddelike heerlikheid na ons toe. Die rekening is reeds meer as 2 000 jaar gelede ten volle vereffen. Al die “elektrisiteit” wat jy in ʼn leeftyd gaan nodig hê is reeds voor reëlings getref. As kinders van die Here dan getuig dat hulle krag om betekenisvol te leef net te min is, mag dit wees dat hulle weer op ʼn voorafbetaal reëling is.

Jy kan dit nie koop nie.

Om die waarheid te sê, nie ’n enkele tree, asemteug, gedagte of handeling sonder die versekering dat jy nie op Eskom krag aangewese is nie. Ook nie menslike energie nie.

Niks minder as die Dunamis van God, die Pinkstergees, die wind van Bo, die tonge van vuur, die Helper, Parakleet, Dissipelsmaker, Bemagtiger en Leidsman.

Mag jy vandag die onbeperkte lading geestelike energie wat tot jou beskikking gestel word met wysheid en geloof gebruik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amalia ·

Sjoe dit is so mooi; Amen geseende daggie vir almal vandag :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.