ToekomsVenster: Beginsels vir ’n gelukkige lewe; pasop vir die roofvoëls

roofvoels

Foto: Casey Allen/Unsplash.com

Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag – Genesis 15:12

God sluit ʼn verbond met Abram in terme waarvan Hy hom ʼn ryke nageslag belowe. Hy verseker Abram van sy beskerming en sorg.

Genesis 15:1 – “Na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ’n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot.”

Abram kry opdrag om diere voor te berei en teenoor mekaar in helftes op te stel. Abram raak egter aan die slaap nadat ʼn diep onrustigheid hom oorval het. Hy word wakker wanneer roofvoëls op die offer toesak. Die roofvoëls is God se teëparty en probeer wat hier gebeur in die wiele ry. Die roofvoëls is eweneens simbool van die bose en sy vernietigende en ondermynende bedrywigheid in die lewe van gelowiges.

Later die nag beweeg God tussen die karkasse deur ten einde die verbond (belofte) te bevestig.

Nuwe Testamentiese word die bose met God se Woord in die mond bestry.

Openbaring 12:11 – “Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.”

Christene het ʼn teëparty. Hy weet dat sy tyd min is en probeer alles om die getuienis van God se kinders te ondermyn. Ons leef egter nie angstig nie maar vanuit die oorwinning aan die kruis. Die nuwe verbond van genade is nie deur die bloed van offerdiere bevestig nie, maar die bloed van die Lam.

Die Bybel maan God se kinders om in die krag van die Heilige Gees die bose te weerstaan. Hy is ʼn verslane vyand en sy toekoms is beseël. Dit beteken egter nie dat hy steeds voortgaan om die wêreld erg te ontwrig nie. Hy slaag ook daarin as God se kinders nie tot die tande bewapen is met die Woord, hul getuienis en die Gees nie.

Wees bedag op die spreekwoordelike roofvoëls. Bly op jou pos. Moenie die leuen plek gee in jou lewe nie.

God het goeie, uitnemende bedoelinge met jou. Leef voluit vandag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OWO ·

Lees gerus die gedagte van die dag,die regte pad, dan sal jy sien dat jy Sy dienaars direk beledig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.