ToekomsVenster: Beginsels vir ’n gelukkige lewe; somtyds net in storms

storm-storms

Foto: Juan Gomez/Unsplash.com

Iemand het gesê, sommige lesse word net in storms geleer.

Niemand begeer stormweer nie. Ons hou van balans, vrede en gemak.

Storms is bedreigend en rig somtyds skade aan. Dit is doodgewoon net nie aangenaam nie. Wie egter dink dat ʼn lewe sonder storms moontlik is leef in ʼn droomwêreld. Die nawerking van die sonde is met ons. Dit sal eers met die wederkoms opgehef word.

Dit beteken hoegenaamd nie dat ons uitgelewer is aan storms en niks daaraan kan doen nie. Daar is inderdaad ʼn hele klomp betekenisvolle lesse wat geleer kan word. Om storm na storm te beleef en nooit in jou vermoë om dit met groter onderskeiding en oorwinning deur te sien of daaruit te groei nie, is nie baie slim nie.

Maak aantekeninge (selfs skriftelike) van wat werk en wat nie werk wanneer ʼn storm jou tref nie. Let op jou benadering en watter resultate dit gelewer het. Teen hierdie tyd het jy byvoorbeeld al geleer dat paniek nie help nie, dit kompliseer dinge net verder. Paniek, vrees en angs dra by tot totale perspektief verduistering. Haal diep asem, dink terug en besoek wat in jou geheue gestoor is.

Dink aan die troos, vertroue en ondersteuning wat beloftes uit God se Woord vir jou gebring het. Herinner jouself aan die beloftes wat jou in krisistye gedra het. Blaai weer deur jou Bybel en soek die monumente van jou geloofslewe op. Jy het mos dag en datum daarby geskryf. Toe was jy ook in ʼn krisis. Hoe lank gelede was dit? Tien, twintig jaar gelede en jy is nog hier! Toe het jy ook gewonder of jy die trauma gaan oorleef en siedaar, jy is blakend gesond.

Weerstaan die bose, veral die leuens wat hy verkondig. Hy spreek dood oor jou lewe en omstandighede. Hy basuin die leuen uit dat God nie omgee nie, dat Hy onregverdig is of dat jy die oorsaak vir jou krisis is. Dit mag waar wees, dan weet jy mos wat om te doen. Verlore seun kom doodgewoon huis toe. Indien jy nie die rede vir jou storm by jouself vind nie vra die Here watter kosbare les in hierdie storm verskuil is. Bid vir die genade dat jy dit nie sal misloop nie.

Onthou jy hoe bevrydend dit was om iemand in jou vertroue te neem laas keer toe die bodem van jou bestaan uitgeval het. Skielik het jy agtergekom dat God nie iets teen jou hou, die dat storm na storm jou tref nie. Dis die verloop van die lewe. Almal beleef storms van tyd tot tyd. Onthou jy hoe gesels jou gehelp het om rigting te vind? Maak nou ʼn afspraak, belê in jou geestelike, emosionele en fisiese gesondheid. Los die TV-subskripsie aan die einde van hierdie maand en gaan sien ʼn bekwame terapeut. Dis geld wat goed spandeer is.

Daar is kosbare lesse te leer in stormweer. God is getrou, Hy sal jou nie los nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.