ToekomsVenster: Begrip vir mekaar

(Foto:
Priscilla du Preez/Unsplash)

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. – Fil. 1:9-10

Paulus, in sy brief aan die gemeente in Filippi, druk die mense ʼn aantal belangrike sake op die hart. Hier gaan dit oor onderskeiding vanuit, gedra en begrond in die liefde.

Dit wil voorkom asof Paulus suggereer dat ʼn gelowige se vermoë om te onderskei saamhang met die mate waarin die persoon met God se liefde gevul is.

In die volgende hoofstuk waarby ons volgende week sal uitkom, verwys Paulus na die voorbeeld van Jesus. Sy optrede het van absolute onselfsugtigheid en onbaatsugtige diens getuig. Hy is die vergestalting van liefde. Sy liefde vir mense is volmaak en word tydens sy aardse optrede deur sy optrede gerugsteun. Uiteraard leer ons om hoe langer, hoe meer soos Jesus te wees. Ons moet dikwels ons eie gebrek aan liefde beween. Dit maak ʼn mens bedroef as jy agterkom dat eiebelang en hoogmoed dikwels naby aan die oppervlak van ons optrede skuil.

Dit herinner aan Paulus se bekende woorde – “ek ellendige mens, wie sal my verlos?”.

In aansluiting by gister se dagstukkie word ons getroos deur die waarheid dat God met elkeen van ons op weg is en sal toesien dat ons ons hemelse bestemming bereik. Dit neem nie weg dat die verpligting op ons rus om in die geloof te volhard en ons deur die Heilige Gees te laat lei nie.

Die tyd waarin ons leef roep na mense wat die gawe van onderskeiding het. Ja, die onderskeiding van geeste as gawe van die Heilige Gees, maar ook onderskeiding in die algemeen. Die vraag is eintlik: is die saak regtig so belangrik dat jy hare moet kloof?

Is jou aandrang om reg te wees en gelyk gegee te word regtig ʼn saak van God se eer en hoe seker is jy daarvan?

Veral as die liefde in die vergelyking tereg kom.

Is jou optrede, ingesteldheid, selfs hardvogtigheid ʼn uitdrukking van Goddelike liefde?

Sou Hy dieselfde oordeel gefel het as jy?

Ek vrees dat in baie gevalle ons die toets van God se Woord nie sal deurstaan nie. Ons het helaas so gewoond geraak aan ons eie standpunte dat ons nie ander se manier van dink en doen kan oorweeg nie. Onthou, in talle sake is dit nie ʼn geval van reg en verkeerd nie. Veel eerder onbekend, vreemd en selfs bedreigend. Mens voel net bedreig as jy nie van jou eie standpunt oortuig is nie.

Wil jy nie ontspan wat daardie saak waaroor jy en ander al so lankal oorlog maak betref nie?

Is die kool die sous werd?

Is dit regtig wat die Woord van jou vra?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.