ToekomsVenster: Bekommernis is sinloos

bekommernis-reis-tas-probleme

Foto: Andreas160578/Pixabay.com

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. – 1 Pet 5:7

“Ek worry my dood” – so sê iemand vir my. “Ek slaap nie in die nag nie.”

Dinge het so vloeibaar geword en ʼn mens weet nie wat die toekoms inhou nie. Jy hou jou asem behoorlik op vir die volgende brokkie ontstellende nuus wat oor die radio of TV aangekondig gaan word.

Waarvan gaan ons leef? Sal my kinders werk kan bekom?

Die lewe het so duur geword, ʼn mens kan niks meer bekostig nie. Die Psalmdigter ken die ervaring … As ek maar net vlerke gehad het soos ʼn voël, sou ek die woestyn in gevlieg het waar niks en niemand my kan bykom nie (Ps. 55:7).

Daar is ʼn pragtige psalm wat ons uitnooi om ons mandjies, ons bagasie by die kruis te kom neersit: Ek het die swaar drag van julle skouers afgehaal, julle kon die mandjies neersit … (Ps 81:7).

Ons word die geleentheid gebied om vry daarvandaan weg te stap en ʼn loflied te sing.

Vir so baie van ons het ons onsekerheid en bekommernis deel van ons menswees geword. Dit is ons sekuriteit, dit definieer wie ons is, dit laat ons veilig voel, hoe paradoksaal dit ook al mag klink. Ons moet ons oor iets bekommer, anders is daar fout met ons. Ai, hoe dom.

Het die lewe uitdagings? Beslis!

Moet ons proaktief beplan en verantwoordelikheid aanvaar? Uiteraard.

Moet ʼn mens terugsit en “Gods water oor Gods akker laat vloei” soos die spreekwoord sê?

Definitief nee.

Is dit in ons mag en vermoë om elke detail van die lewe vooruit te verreken en te beplan?

Nee, ongelukkig nie. Ons het die Here nodig. Hy weet alles. Ons kan Hom vertrou. Hy sal ons nie teleurstel nie.

Gebed:

Met U hulp loop ek ʼn oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie (Ps. 18:30). Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.